Gavin Wingrave – man wat van moord aangekla en vrygespreek tydens plaasaanval aangerand en ernstig beseer

Gavin Wingrave het sy vrou, Nadine, voorberei om situasies soos die plaasaanval Maandagaand op hulle te hanteer.

Wingrave is deur drie mans op die plaas Heidelvallei naby Witrivier oorval en erg met ’n ysterstaaf aangerand. Nadine kon haarself betyds in die plaashuis toesluit en hulp ontbied.

Wingrave het ernstige kopbeserings soos skedelfrakture en wonde aan sy arms in die aanval opgedoen.

Nadine het vertel van haar vinnige reaksie toe sy die drie aanvallers in die erf gewaar het.

“Ek het uitgegaan om vir my man die hek oop te maak. Hulle was reeds in die erf toe ek uitkom. Ek dink hulle was verbaas om my daar te sien!”

Twee aanvallers het na haar man toe gehardloop.

“Een het my agternagesit. Ek kon in my kop hoor hoe my man vir my sê: ‘Kom in die huis en bly daar.’ Hy het my al soort van ‘opgelei’ en altyd gesê as iets soos hierdie gebeur, moet ek so gou as moontlik in die huis kom sodat ek hulp kan ontbied.”

Sy sê die man was kort op haar hakke en sy het net betyds die hek agter haar toegeslaan. “Ek het toe vir Bryan Coetzee (op wie se plaas die Wingraves woon) gebel.” Coetzee bly sowat 100 meter van hulle af.

Die aanvaller het intussen haar man se huissleutels gaan haal om die hek oop te sluit wat sy toegeslaan het. Nadine het traangas, nie pepersproei soos voorheen berig is nie, in die hande gekry en hom deur die venster gespuit.

Coetzee het, nadat sy hom gebel het, reeds van sy huis af begin skote vuur. “Ek dink die skote het die twee mans wat my man aangeval het, laat skrik en hulle laat vlug. Ek het direk ná Bryan ook die buurtwag laat weet ons is in die moeilikheid. Bryan was binne ’n minuut by ons. Die derde aanvaller het toe weggehardloop.”

Sy is dankbaar sy kon betyds wegkom om die nodige noodoproepe te maak. “Dis terrible om te dink jy hardloop weg en los jou man by die aanvallers, maar ek het geweet dis wat hy wou hê ek moet doen. As ek dit nie gedoen het nie, was ons albei waarskynlik nou dood.”

Sy het ná die aanval uitgehardloop en haar man bebloed op die gras sien lê. “Ek kon darem sien hy haal nog asem. Ek vermoed hy het die man wat my agtervolg het, agternagesit, want hy was nader aan die huis, nie meer daar waar hulle hom aangerand het nie.”

Sy weet nie of dit ’n wraakaanval was nadat Wingrave verlede maand van moord aangekla en vrygespreek is nie. Hy het ’n aanvaller uit selfverdediging met ’n mes gesteek. “Ek kan regtig nie sê of dit ’n wraakaanval was nie. Ek weet nie. Ek weet regtig nie.”

Die swelling om sy gesig het gesak, alhoewel hy steeds onder verdowing is.
Hul lewe nog omdat sy kon vlug, sê vrou na plaasaanval naby Witrivier

Kol. Mtsholi Bhembe, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die motief vir die aanval is nog onbekend. Die polisie volg leidrade op, maar skakel nie die moontlikheid uit dat dit ’n wraakaanval kon wees nie.

Volgens Nadine het dit Woensdag beter met Wingrave gegaan.

Die swelling om sy gesig het gesak, alhoewel hy steeds onder verdowing is. “Dis steeds moeilik om hom so te sien,” sê sy. “Ek dink ook nie hy is baie beïndruk daarmee dat hy nog mediese behandeling ontvang nie. Dis mos maar ’n man-ding. Die dokter sê ons moet wag en rustig bly. Dit gaan tyd vat.”

Haar wenk aan vroue wat aangeval word, is om nie terug te veg nie, maar om weg te kom of in ’n situasie te kom waar hulle hulp kan ontbied. “As jy nie kan wegkom nie, dán moet jy veg,” sê sy.

Sy en haar man is minder as ’n jaar getroud. “Ons het nog nie eens wittebrood gehou nie!” ’n Vakansie is beslis op die doenlysie wanneer Wingrave weer op die been is.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!