Geen murg in pype van DA – eis vir beskerming na lede dreigemente ontvang

Die DA sê hy sal ’n brief aan Baleka Mbete, die speaker van die nasionale vergadering, stuur waarin hy beskerming eis vir lede van die staande komitee oor openbare rekeninge wat bewerings van staatskaping by Eskom ondersoek.

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, sê die party sal ook beskerming vra vir mense wat voor die komitee getuig.

Dit volg nadat die 17-jarige seun van Zukiswa Rantho (ANC), voorsitter van die komitee, in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap ’n boodskap van onbekende mense gekry het wat sê “jou ma maak die lewe vir ons moeilik”.

Rantho het Jackson Mthembu, hoofsweep van die ANC, in kennis gestel, berig City Press. Sy sou die polisie ook inlig.

Die mans wat die dreigement gemaak het, het glo met ’n swart Golf GTI gery.

Nadat hulle die boodskap aan die seun oorgedra het, het hulle weggejaag, het hy aan sy ma gesê.

Natasha Mazzone, die DA se verteenwoordiger in die komitee, is volgens Steenhuisen agtervolg. Daar is ook met haar motor gepeuter, sê hy.

Steenhuisen sê uit die getuienis wat verlede week aangehoor is, is dit “blatant duidelik” dat die lede van die portefeuljekomitee sowel as die getuies beskerming nodig het.

“Die DA sal nie swig voor intimidasie nie of ophou om seker te maak dié wat in staatskaping geïmpliseer word, word verantwoordelik gehou en krimineel aangekla,” het Steenhuisen in ’n verklaring gesê.

City Press het Sondag berig Rantho het gesê sy weet nie wat om van die waarskuwing aan haar seun te maak nie.

Sy glo wel daar is mense wat wil hê die komitee moet sy ondersoek staak.

Die Sunday Times het verlede week berig Bongani Bongo, minister van staatsveiligheid, het glo probeer om Ntuthuzelo Vanara, die getuienisleier, om te koop. Hy het ook dreigemente ontvang dat hy hom aan die kommissie moet onttrek.

Die portefeuljekomitee het verlede week onder meer gehoor hoe Zola Tsotsi, ’n voormalige Eskom-voorsitter, pres. Jacob Zuma by die kaping van Eskom betrek het.

Die komitee het ook gehoor hoe Brian Molefe, vorige uitvoerende hoof van Eskom, en Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, ontken het hulle het enige bande met die Gupta-familie, wat van staatskaping verdink word.


Enjoyed this post? Share it!