Geen sentiment vir hierdie mislukte Afrika-staat

Gister, 31 Mei 2017, was dit presies 115 jaar sedert die Boererepublieke onder Brittanje se geweld ondergegaan het. Vir die Boerevolk was dit die swartste dag in sy ganse geskiedenis. Asof in een oomblik is al die sware offers van vele jare en dekades aan goed en bloed en trane nietig verklaar; het dit skielik tevergeefs geword. Hulle kon so voel omdat die Republiek wat hulle verloor het, ‘n volwaardige volksrepu¬bliek was — ‘n tehuis vir hulle en hulle nage¬slag wat sou kom.

So het Mnr. Andries Breytenbach, voorsitter van die Boere-Afrikanervolksraad, gesê op ‘n Republiekdagherdenking op Groblersdal.

Hy sê die Afrikaner het op grond van sy Calvinistiese lewensbeskouing van die vroegste tyd af ‘n diepe besef gehad van sy roeping as volk en die drang tot durende voortbestaan as volk — ‘n aparte volk, apart van die gekleurde volke en ook apart van ander blanke volke.

Geoordeel aan die omstandighede op daardie tydstip, het dit onmoontlik gelyk dat ‘n nuwe vryheidsdag ooit weer vir ons volk sou aanbreek. “Nogtans het in die harte van ‘n klein groepie leiers die geloof geleef dat die duisternis wat op daardie tydstip oor ons volk gedaal het, nie vir altyd sou duur nie, dat so seker as wat die dag op die nag volg, die vryheidson weer sy lig oor hulle sou straal; want die vryheidsideaal was veranker in hul geloof dat God self ons as volk in aansyn geroep en hierdie land aan ons as erfenis gegee het.

“Drie-vier jaar later in 1910: verenig die vier Britse kolonies in ‘n nuwe staat: die Unie van S.A. – selfregerend, maar dominium van die Britse Ryk. Dit was nie ‘n volkstaat nie, maar ‘n staat waarin twee volke wat mekaar kort tevore nog op die slagveld beveg het, asook die Swartes, saamgegooi is en nou een lojaliteit moes hê: Die Britse Ryk en die Britse kroon en trou aan vreemde simbole.”

Mnr. Breytenbach het daarop gewys dat hierdie nuwe staat totaal anders was as die volksrepubliek wat die Boere geken het. Die Boere se eiendomlike is deurentyd misken ter wille van die Engelssprekendes.
“Toe ons in 1961 ‘n Republiek geword het , het dit staatkundig geen groter vryheid of veranderinge gebring as wat ons reeds gehad het nie.

Die Verwoerd-republiek was ‘n sieraad sonder sy gelyke in die wêreld: vooruitstrewend en welvarend. Dit het ‘n gevoel van voldoening en gerustheid gebring. Toe laat sak die volk die wapens…”

Die ’83-toegewing van PW Botha was die eerste paaiement van ‘n oorgawe (driekamer parlement).
“Wat herdenk ons dan nog op ‘n dag soos hierdie? Republiekfees? — onmoontlik! Wie het sentiment met hierdie teenswoordige mislukte Afrika-staat? Polities is die Boerevolk nou slegter af as enige tyd ná 1902.
“Al wat ons kán herdenk, is ‘n momentele politieke oorwinning wat eens in ons geskiedenis behaal is; soos die militêre oorwinning op Majuba: heroïese momente in die verlede waarvan die vrugte tot niet gemaak is.
“Soos daar tydens die politieke stryd ná 1910 verskillende strominge was, beleef ons vandag iets soortgelyks:

  •  diegene wat hulle volledig vereenselwig met die sg. reënboog¬bedeling en daarin opgaan;
  •  ‘n tweede element wat ‘n soort “selfstandigheid” nastreef, maar deel van die gemeenskaplike SA wil bly; en
  • die ware republikeine: die draers van die vryheidsideaal van ‘n Andries Pretorius, ‘n Paul Kruger en Hendrik
    Verwoerd. Laat ons geen illusies koester nie: óns word al meer “uitgeskuif” ook en veral deur “eie” volksgenote, ter wille van die vyand se welwillendheid.

“Hoe en wanneer ons eie volksrepubliek sal bereik, weet niemand nie. Met die huidige magte aan bewind en in die heersende omstandighede sien ek geen moontlikheid dat ons deur ‘n vreedsame politieke proses ons vryheid sal herwin nie — al die tekens dui op die teendeel.

“Daarom moet ons onsself geestelik en fisies voorberei om, wanneer geweld op ons afgedwing word, onsself te verweer en te handhaaf. Ons raak almal ongeduldig met die moorde op ons mense en die vertrapping van ons regte. Nogtans moet ons daarteen waak om in oormoedigheid en oorhaastigheid dinge te doen of ons te laat insleep by aksies wat vir ons en ons naasbestaandes/¬volks¬genote net ellende tot gevolg kan hê, soos al met verskeie van ons volksgenote gebeur het.

“Een ding weet ons: ons lotgevalle en die uitkoms van ons stryd is in die hande van God. Hy sal vir ons die regte tyd en die regte pad aandui. Op Hom alleen stel ons, ons vertroue,” was Mnr. Breytenbach se boodskap.

Bron: Die Vryburger, 1 Junie 2017


 

Enjoyed this post? Share it!