Geliefde egpaar van Witbank vir 2 selfone vermoor

Twee selfone. Dit is waarvoor ’n geliefde egpaar van Emalahleni (Witbank) in Mpumalanga in hul huis vermoor is.

Willy (54) en Glenda (61) Allison se bebloede lyke is Sondagaand ná vermoedelik ’n gewapende rooftog in verskillende kamers in hul huis gekry.

Kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder, sê ’n platskerm-TV-stel wat uit die egpaar se huis gesteel is, is deur die verdagtes by die hek neergegooi. Hulle het te voet gevlug met slegs twee selfone.

Willy is agter sy een skouer geskiet en Glenda het ’n skietwond deur haar sy.

“Dit is ’n raaiselagtige voorval. Ons ondersoek kyk na alle moontlikhede,” het Hall gesê.

Volgens hom is dit die eerste gewapende huisrooftog vanjaar in Emalahleni waar mense koelbloedig doodgeskiet is.

“In die ander huisrooftogte word mense met wapens aangehou, maar sodra die skelms gesteel het wat hulle wil, los hulle die huiseienaars uit,” sê Hall.

’n Buurvrou van die egpaar in Browningstraat het Sondagaand omstreeks 19:00 glo gesien hoe vyf mans met klapmusse oor ’n muur spring.

Daarna het sy verskeie skote gehoor.

“Mense sê daar is ses skote gehoor, ons het vyf koeëldoppies opgetel,” sê Hall.

Die polisie en die nooddienste is ontbied nadat die skote gehoor is.

Hall sê Glenda se lyk is in die kombuis gekry en Willy is dood in die studeerkamer gekry.

“Dit lyk asof die vrou moontlik wou vlug vir die moordenaars toe sy deur die sy geskiet is,” het Hall gesê.

DIT LYK ASOF DIE VROU (GLENDA ALLISON) MOONTLIK WOU VLUG VIR DIE MOORDENAARS TOE SY DEUR DIE SY GESKIET IS.

Kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder
Die moordenaars het by ’n skuifdeur van die huis ingebreek. Browningstraat grens teenaan die N4-hoofweg. Hall sê misdadigers spring gereeld oor die muur waar wegkommotors hulle op die hoofweg oplaai.

Willy het Sondagoggend glo ’n stuk vleis met die gifstof Temik op in die erf gekry. Die polisie vermoed die stuk vergiftigde vleis is Saterdagaand oor die heining gegooi. Die Allisons se honde het nie van die vleis gevreet nie.

Hall sê daar is elke maand ’n paar voorvalle waar inbrekers eers honde vergiftig voordat hulle by huise inbreek.

Inwoners beskryf die Allison-egpaar as “goeie mense wat niemand kwaad aangedoen het nie”.

Hulle was veral nou betrokke by die Witbank-rolbalklub.

’n Gedenkdiens vir die egpaar word Donderdag in die Metodistekerk in Emalahleni gehou. Albei het kinders uit vorige huwelike.

Deur:Marietie Louw-Carstens/ Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!