Gemeenskappe sal moet begin mobiliseer

Die VF Plus in Gauteng het ‘n dringende beroep op gemeenskappe in die provinsie gedoen om hulself daadwerklik te begin mobiliseer teen misdadigers en misdade. Hierdie oproep volg nadat ‘n verskeie vlaag van moorde en aanvalle die afgelope weke in die land plaasgevind het. In die jongste voorval is ‘n agtjarige outistiese seun gister in sy huis in Springs, vyf keer met ‘n mes gesteek nadat hy en sy ma deur rowers oorrompel was. Die seun sukkel om te praat, dra doek en gebruik ‘n rolstoel. Dus ‘n weerlose sagte teiken.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr Philip van Staden, het in reaksie op die jongste voorval gesê dat wetsgehoorsame burgers baie vining sal moet besef dat, indien hul nie na hul eie veiligheid omsien nie, daar nog meer slagoffers van sinnelose geweld en moorde gaan wees. Van Staden is van mening dat, alhoewel die Grondwet bepaal dat elke persoon die reg op veiligheid het en die polisie jou moet beskerm, beskik die regering en die polisie nie meer oor die vermoë nie.

“Gemeenskappe sal baie vining moet begin mobiliseer. Die dae wat ons nie meer omgegee het oor ons buurman en sy gesin nie, is verby. Ons sal moet paraat raak en meer intensief misdaad moet begin vasvat. Die staat gaan en kan ons nie meer langer beveilig nie. Gemeenskappe sal dringend plaaslike polisiëringsforums of privaat buurtwagte aan die gang moet kry wat beman word deur lede van die gemeenskap self. Gesinne moet selfverdediging-klasse begin neem, weet wat in jou omgewing aangaan, jou huis beveilig en seker maak dat daar nie merkers voor jou eiendom geplaas word nie”.

Die VF Plus is van mening dat, indien gemeenskappe in groot getalle daadwerklik teen misdadigers en misdaad gaan begin optree, die regering gedwing sal word om streng teen misdadigers op te tree.

“Ons as gemeenskappe het twee keuses nl: óf ons begin weer na mekaar omsien en help mekaar óf ons gaan nog ‘n verdere duur prys met ons lewens betaal as wat ons reeds betaal het. Aanvalle en moorde gebeur nie net meer op landelike gebiede nie maar raak nou ‘n alledaagse tendens in die stede. Die gevaar bestaan dat gemeenskappe heeltemal oorgeneem kan word deur misdadigers as daar nie nou dringend opgetree word nie. Ons moet dink aan die toekoms van ons kinders”.

Die VF Plus bedank alle lede van die gemeenskappe wat reeds deel is van beveiligingsnetwerke en daardeur ‘n positiewe voorbeeld vir die res van die gemeenskap stel.


Enjoyed this post? Share it!