Genl. Koos de la Rey – Die Leeu van Wes-Transvaal: “… die spul wat met hulle monde oorlog voer”


Die Leeu van Wes-Transvaal

Genl. Koos de la Rey, een van die Tweede Vryheidsoorlog se grootste leiers, bly tot aan die einde onoorwonne, maar word twaalf jaar later doodgeskiet toe die polisie sy motor vir die van ‘n berugte rampokker aansien. 

Koos de la Rey het hom tot pres. Paul Kruger gewend: “Ek sal my plig doen soos die Volksraad verlang, en u sal my nog in die veld aantref lank nadat u en die spul wat met hulle monde oorlog voer, die land uitgevlug het.” Hierdie snydende en tragiese ware woorde aan Kruger het De la Rey volgens getuienis gerig op ‘n geheime sitting van die Volksraad in die spanningsvolle weke kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Wie was hierdie man wat die alom geleerde en patriargale Staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek op so ‘n vreeslose wyse durf aanspreek het?

Oktober, ‘n maand waarin beroemde Boerefigure soos Paul Kruger, M.T. Steyn en Christiaan de Wet gebore is, het ook op die 22ste van die maand in die jaar 1847 die geboorte opgelewer van Jacobus Herculas de la Rey, op die plaas Doornfontein in die distrik Winburg. Koos was die sesde kind van Adrianus Johannes Gysbertus de la Rey en sy vrou Adriana Wilhelmina gebore van Rooyen.

Toe hy maar ‘n jaar oud was, verhuis sy ouers na die plaas Welverdiend in die huidige distrik Wolmaransstad. As kind van die veld groei De la Rey op met weinig formele onderwys, maar die veldskool, sy ouers se hand en sy hoë intelligensie sorg vir n goeie vorming.

In 1876 trou De la Rey met Jacoba Elizabeth (Nonnie) Greef, wie se vader, Hendrik Abraham Greeff, die stigter van die dorp Lichtenburg  in Wes-Transvaal was. Reeds vroeg in sy lewe reageer Koos de la Rey met sukses op die militêre eise van sy tyd. Hy neem in 1865 op agtienjarige leeftyd deel aan die Tweede Basoetoe-Boereoorlog, volgens oorlewering reeds as veldkornet. Sy optrede word deur moed en vernuftige krygsbeleid gekenmerk, eienskappe wat uiteindelik in die Anglo-Boereoorlog hul wasdom sou bereik. Dit was in sy aard om Louwe Wepener se bestorming van Thaba Bosigo oor en oor in sy gedagtes na te gaan, vas te stel waar gefouteer is en te besluit wat hy persoonlik sou doen. Vir hom was dit ‘n genotvolle denkoefening, want oorlog voering het hom nie juis aangestaan nie, en moes slegs as ‘n laaste uitweg geneem word. Wanneer daar egter tot militêre aksie ooregaan word, het hy gevoel, moes alle krygslis en vernuf ingespan word. In 1876 gaan  hy die burgers van Makwassie voor as verldkornet in die oorlog teen Sekenie.

Met die eerste Anglo-Boereoorlog van 1880-1881 neem De la Rey onder genl. P.A. Cronje deel aan die beleg van die Britse fort op Potchefstrom. Nieteenstaande siekte en uithongering hou die Britte op merkwaardige wyse uit tot na die beslissende slag van Majuba De nutteloosheid van so ‘n beleg het De la Rey nie ontsnap nie.

Weens sy bekwaamheid as krygsman is De la Rey in 1885 as komandant vir Lichtenburg verkies Hierdie betrekking het hy tot 1893 beklee, toe hy lid van die Eerste Volksraad geword het. Hoewel hy nie veel gepraat het nie, het hy nie geaarsel om sy mening kort en kragtig, helder en onomwonde te stel nie. Met die reeds genoemde geheime sitting het hy eers aandagtig na al die argumente geluister. Toe hy uiteindelik op die been kom, het hy hom uitgespreek teen ‘n oorlogsverklaring teen Brittanje. Hy was nie ten gunste van ‘n stryd teen Brittanje nie en het ‘n aggresisiewe oorlog veroordeel as onwys en onnodig. Dt was in elk geval sy ooortuiging dat die Republieke nog aan die opgroei was en dat hulle nog tien of vyftien jaar moes wag alvorens hulle daaraan kon dink op die wapen op te neem.

Nog pres. Kruger nog die progressiewe oposisie-groep van kmdt.-genl. Piet Joubert kon egter die Britse imperialisme stuit. Op 27 September 1899  het Joubert as hoof van die Boeremagte vir De la Rey meegedeel dat hy vanweë die sametrekking van Britse troepe aan die ZAR se grense genoodsaak was om die burgers vir kommandodiens op te roep. Hy het voorts verklaar dat hy Piet Cronje as generaal vir die westelike dele aangestel het met De la Rey as Cronjé se adviseur.

Met swaarmoedigheid stel De la Rey, die man van vrede, hom op 1 Oktober in Pretoria tot Cronjé se beskikking. Byna onmiddellik verskil hulle oor strategie. De la Rey stel voor dat die westergrensburgers liewer in die rigting van Veertienstrome, en nie soos Cronjé beoog na Mafeking nie, moet opruk. Waarskynlik het De la Rey daarmee beoog om die Vrystaters wat rondom Kimberley sou lê, die hand te reik Dit is duidelik dat hy uit die staanspoor oor die strategie vir die oorlogspoging besin het.

koosdelareyperd

Dit is spanningsvolle dae op Polfontein, suidoos van Mafeking, waar Cronjé met sy hooflaer op regerigsintruksies wag. Sy eerste oogmerk is om die Britse troepe aan die westergrens te isoleer en uit te wis. Die aand van 11 Oktober 1899 ontvang hy van die Regering die berig dat die Republieke in ‘n staat van oorlog met Brittanje verkeer. Onmiddelik gelas hy De la Rey om met 800 burgers suidwaarts na Kraaipan op te ruk om ‘n Britse troepemag van 1,000 te beveg en die spoorlyn op te breek. De la Rey vertel in sy herinneringe dat dit die pynlikste taak was wat hy ooit moes uitvoer. Hy, wat tot op die laaste oomblik teen die oorlog gekant was, is aangesê om die vyandelikhede te begin.

Die aand van 12 Oktober 1899 gebeur dit. Die gepantserde trein wat kol. R.S.S. Baden-Powell onder lt. Nesbitt van Mafeking na Kimberley gestuur het, keer die betrokke aand terug, voorgegaan deur ‘n gidslokomotief. Kort voor 22h00 ontspoor die gidslokomotief net suid van Kraaipan op die plek waar De la Rey die spoor laat opbreek het. Terwyl Nesbitt die spoor laat herstel, neem die Boere onder bevel van vk. J.C. Coetzee weerskante van die spoor stelling in. De la Rey is self ‘n entjie daarvandaan. Omstreeks 22h45 vuur Coetzee die eerste skoot van die Anglo-Boereoorlog en gee so die teiken aan die burgers om die geveg te begin. Dwarsdeur die nag pen die Boere die Britte met akkurate Mauservuur vas, maar De la Rey se aankoms teen dagbreek met kapt. van der Merwe en vier kanonne vorm die keerpunt. Reeds met sy derde bom tref van der Merwe die stoomketel, waarop die wit vlag gehys word. Benewens 26 krygsgevangenes val drie kanonne, sowat dertig gewere en heelwat ammunisie in De la Rey se hande. Mafeking was nou aan die suidekant afgesny.

Die aand van 15 Oktober het Cronjé en De la Rey ‘n ernstige meningsverskil gehad oor die verdere strategie aan die westergrens. Dit was die ou militêre opvatting teen die nuwe, dinamiese denke. Cronjé het kennelik niks positiefs geleer uit sy beleg van Potchefstroom gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog nie. Hy was nou vasberade om deur middel van ‘n uitgerekte beleg vir Baden-Powell in Mafeking met sy 700 man tot oorgawe te dwing. De la Rey het egter aan hom voorgestel dat alle kommando’s weggehou word van Mafeking en dat ‘n ligte perdekommando die dorp met ‘n stormaanval moet verower. Cronjé was nie daartoe bereid nie. Hy het gevoel dat hy te veel man op die wyse sou verloor, aangesien Mafeking goed van forte voorsien was. De la Rey weer wou nie tyd verspil  nie. Die oorlog was nou aan die gang en hy het gevoel dat hulle moet voortgaan in die rigting van Kimberley om die vyand se toevoer af te sny. Hy het Cronjé prontuit afgeraai om soos met die beleg van Potchefstroom twintig jaar tevore op te tree. Toe het Cronjé die hele oorlog deurgebring en wel groot roem verwerf deurdat hy die Britte met sy burgers vasgekeer het, maar hy wat De la Rey is wil net vir Cronjé sê dat die saak omgekeerd was: die Britte het met slegs 200 tot 300 troepe vir Cronjé met sy 600 of 700 burgers uit die gevegsterrein gehou. Dieselfde sou nou by Mafeking gebeur, het De la Rey gevoel.

De la Rey was onteenseglik korrek in sy oordeel. Hoewel die getalle van die burgers romdom Mafeking spoedig afgeneem het tot 2,000 man, het Baden-Powell nogtans op suksesvolle wyse vir meer as sewe maande uitgehou en op so ‘n wyse burgers vasgepen wat nuttig op die ander ylbewaakte fronte aangewend kon word.

Eers toe dit te laat was, het Cronjé vir De la Rey toestemming gegee om na Kimberley toe te gaan. Op 19 Oktober 1899 benoem hy hom tot veggeneraal vir hierdie doel. Onderweg na Kimberley word sy tyd in beslag geneem deur administratiewe reëlings in Vryburg, Taung en Veertienstrome, sodat hy eers in November saam met hoofkmdt. C.J. Wessels, hoof van die Vrystaatse magte aan die wesfront, met die beleg van Kimberley begin het.

Die lafhartige en onvolledige beleëringswyse van die Boere het spoedig De la Rey se argwaan gewek. Hy het besef dat lord Methuen vanuit die suide op pad was om Kimberley te probeer ontset, en het die dringendheid ingesien om hom te gaan stuit. Met die Regering se toestemming arriveer hy op 23 November met 600 burgers by Graspan, enkele ure nadat veggenl. Jaobus Prinsloo in die slag van Bemont teen Methuen verplig was om sy stellings prys te gee. Met die slag van Graspan (ook bekend as Enslin of Rooilaagte) op 25 November het Methuen en De la Rey vir die eerste keer met mekaar te doen gekry. Weliswaar was die uitslag nie ‘n beslissende Britse oorwinning nie, maar met sy oormag aan artillerie en infanterie het Methuen daarin geslaag om die Boere uit hule goeie stellings te verdryf. Soos Cronjé later by Paardeberg, het De la Rey hom verkeerdelik laat lei deur die oortuiging dat die Britte by die spoorweg sou wou bly, sodat hy die oostelike flank verste van  die spoorlyn afgeskeep het. Dit was juis op die flank dat die Britse infanteriestormloop sukses vir Methuen ingebring het.

d64a16d6aa96547dba50756610a3fcc9

 

Genl De La Rey in Langlaagte deur die SA Polisie doodgeskiet.

1914 was ‘n bitter moeilike jaar. Skaars 12 jaar het verloop sedert die einde van die Anglo Boereoorlog. Die verarming en verbittering onder die volk was geweldig. Skaars 4 jaar vantevore is gedeeltelike onafhanklikheid van Brittanje gekry met die vorming van die Unie van Suid-Afrika.

Die enigste leiers wat die volk op hierdie tydstip gehad het, was die oorblywende generaals van die oorlog en daarvan was genl. Koos de la Rey bepaald die mees beminde. Die ou “gentleman” van die oorlog was die man wat eers nie wou veg nie, en toe enduit geveg het. Oom Koos het 5 jaar na die oorlog tot die politiek toegetree en is verkies as Transvaalse Parlementslid in die eerste vrye Transvaalse verkiesing na die oorlog in 1907. In hierdie hoedanigheid steun hy Botha en Smuts met Unifikasie.

 

Maar met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 vra Brittanje dat Suid-Afrika aan die Empire se kant toetree teen Duitsland, en Smuts en Botha is hiervoor te vinde. Oom Koos, Krisjan de Wet, Christiaan Beyers, JBM Hertzog, Manie Maritz en ander generaals is nie. Daar kom erge verdeeldheid onder die volk tussen die minderheidsgroep wat volkome vryheid voorstaan en die pragmatiese groepering wat deel van die groter eenheid van die Unie en van die Empire wil bly.

(Klink dit nie bekend nie? In ons eietydse idioom sou De Wet en De la Rey die selfbeskikkingsvegters wees en Smuts en Botha die DA-politici met die Britse Empire gelykstaande aan die Nuwe Suid-Afrika. Dit was ‘n kooksel van nasies en kulture en tale en onversoenlikhede wat onvermydelik op ‘n ramp moes afstuur)

 

Generaal de la Rey spreek hom uit ten gunste van neutraliteit – hy wil niks te make hê met Europa se twiste nie. Nou ontstaan daar die gedagte dat Engeland se aandag elders is en dat die tyd vir vryheid aangebreek het. Oral klink die roepstem op om die wapen op te neem en te veg vir selfbeskikking. Die visioene van oom Niklaas (Siener) van Rensburg, ‘n goeie vriend van oom Koos de la Rey, word aangehaal om te bewys dat die tyd vir so ‘n stryd ryp is. (Dit klink self nie onbekend nie, maar toe, soos nou, was dit ook nie weldeurdag nie – soos wat die geskiedenis weldra sou bewys)

 

Uit protes teen Smuts se ondersteuning van Brittanje se oorlogspoging, bedank Beyers as Kommandant Generaal van die Unie se verdedigingsmag en versoek oom Koos de la Rey om per trein na Johannesburg te reis sodat hy en Beyers saam na Potchefstroom kan gaan om te konsulteer met genl. Kemp oor hulle toekomstige ondersteuning, al dan nie, aan die Botha/Smuts regering.

 

In hierdie tyd is daar in Johannesburg die bende van Robert Foster wat links en regs banke beroof en losbrand op polisiebeamptes. Op die middag van 14 September skiet die Foster-bende ‘n polisieman dood. Daar word oral aan die Rand padblokkades opgestel met die opdrag om die Foster bende te arresteer of dood te skiet.

 

En so speel die geskiedenis op daardie middag van 15 September 1914, 101 jaar gelede, ‘n wrede spel. Die motor met genl. Beyers en genl. De la Rey agterin ry in die donkerte van die aand deur Langlaagte en gewaar ‘n padblokkade. Vas oortuig daarvan dat die padblokkade opgestel is om oom Koos te verhoed om die vergadering van burgers, wat Kemp in Potchesftroom byeen gemaak het, toe te spreek, gee Beyers opdrag dat daar nie stilgehou word nie. Al wat die (toevallig Engelssprekende,) polisiebeampte gewaar, is ‘n groot, donker Daimler wat met ‘n hengse vaart deur die padblokkade jaag. Vas oortuig daarvan dat dit Foster is, vuur hy ‘n waarskuwingskoot.

 

Die koeël tref die padoppervlakte, slaan op en dring deur die bakwerk van die Daimler voordat dit generaal De la Rey noodlottig in die regterlong tref. Met die woorde: “Krisjan, dis raak” sak die bejaarde ou volksman in Beyers se arms inmekaar en sterf.

 

Tot hierdie dag word daar geglo dat dit inderdaad ‘n sluipmoordaanval was wat deur Smuts en Botha georkestreer is om ‘n Rebellie te verhoed. Ons sal waarskynlik nooit weet nie, behalwe dat die Rebellie plaasgevind het, sonder enige nuttige uitkoms en met vele smart en bloedvergieting. Beyers sou dit nie oorleef nie, Maritz moes vlug na ballingskap, De Wet en oom Siener is in die tronk toegesluit, Jopie Fourie is doodgeskiet deur sy eie mense… Vryheid sou eers ‘n halfeeu later met Republiekwording kom. Maar vryheid het sy prys gehad. En hy sal dit weer hê.

 

Die wond wat die opslagkoeël daardie nag in Langlaagte gemaak het, was nie alleen ‘n wond in oom Koos se liggaam nie. Dit het ons volk gewond tot hierdie dag. Die verdeeldheid en wantroue het nooit opgehou nie.

nonnieImage111

Koos de La Rey

Generaal Koos de la Rey (Jacobus Herculaas de la Rey) (22 Oktober 1847, Winburg – 15 September 1914, Langlaagte) was ‘n Boeregeneraal gedurende die Tweede Vryheidsoorlog en word geag as een van die grootste militêre leiers tydens daardie konflik. De la Rey was ‘n diep gelowige mens en ‘n sakbybel was selde nie in sy hande nie. Hy het ‘n formidabele voorkoms gehad – ‘n lang, netjies gesnyde bruin baard met ‘n hoë voorhoof met gesonke oë wat hom ‘n patriargale voorkoms gegee het.

Hy word algemeen beskou as die sterkste en mins inskiklike Boeregeneraal tydens die Tweede Vryheidsoorlog en as een van die leiersfigure van Afrikaner Nasionalisme. As guerilla het sy taktieke besonderse sukses behaal. De la Rey was gekant teen die oorlog tot die laaste, maar toe hy as lafaard beskuldig is tydens ‘n Volksraadvergadering, het hy gesê dat as die tyd vir oorlog sou kom, hy sou veg lank nadat die wat koukus oor die oorlog al opgegee het. Die woorde sou later bewaarheid word.

De la Rey was beroemd vir sy rare gedrag teenoor sy vyande. ‘n Voorbeeld hiervan is by Tweebosch op die 7de Maart waar hy Luitenant-generaal Lord Methue saam met ‘n paar honderd van sy troepe gevange geneem het. Die troepe is teruggestuur na hulle onderskeie oorlogslyne omdat De la Rey nie die bronne gehad het om hulle te onderhou nie en Methuen is vrygelaat omdat hy erg gewond is en De la Rey gemeen het dat hy sou doodgaan sonder die mediese dienste wat slegs die Britte op daardie stadium kon verskaf.

Hy is gebore naby Winburg, Oranje-Vrystaat, Suid-Afrika, en was die sesde kind van Adrianus Johannes de la Rey en Adriana van Rooyen. Daar word geglo dat hy die kleinseun is van immigrante vanuit Nederland. Ná die Slag van Boomplaats. in 1848 is hul familieplaas deur die Britte geannekseer en het die gesin na die Transvaal getrek en hulle naby Lichtenburg gevestig. As jong man het De la Rey gewerk as transportryer wat die diamantroetes bedien het by Kimberley. Hy het met Jacoba Elizabeth Greeff getrou (wat op die plaas Manana grootgeword het, die huis staan nog net oos van Lichtenburg) en op die plaas Elandsfontein gebly. Die egpaar het tien kinders gehad.

De la Rey het in die Basotho-oorlog van 1865 geveg en in Sekhukhune se oorlog van 1876. Hy was nie ‘n aktiewe deelnemer in die Eerste Vryheidsoorlog nie, maar was ‘n Veldkornet in die Wes-Transvaal en het genl. Piet Cronje se Potchefstroom Beleg oorgeneem toe Cronjé siek geword het. Hy is verkies tot kommandant van die Lichtenburg distrik en het in 1883 lid geword van die Transvaalse Volksraad. As voorstander van die vooruitstrewende beleid van Genl Piet Joubert het hy Paul Kruger se beleid teenoor die uitlanders (buitelanders wat na die goudvelde van Transvaal geswerm het) teëgestaan en gewaarsku dat dit sou lei tot oorlog met Groot Brittanje.

Tydens die uitbreek van die oorlog is De la Rey aangewys as een van Piet Cronjé se veldgeneraals. Die eerste skote wat gevuur is in die oorlog was op ‘n Britse trein op pad na Mafeking by Kraaipan, gelei deur De la Rey. Die trein is ontspoor en na ‘n vyf ure lange geveg het die Britse magte oorgegee. Die Slag van Kraaipan het De la Rey beroemd gemaak, maar dit het konflik tussen hom en Cronjé verhoog, wat hom gestuur het om die Britte te verhoed om die beleg op Kimberley te beëindig.

Luitenant-generaal Lord Methuen, bevelvoerder van die 1ste Divisie, was in beheer van die vernietiging van die Boere se belegging van Kimberley en het sy magte per spoor na Belmont stasie in die noordelike Kaapprovinsie vervoer. Met hulle aankoms is daar deur ‘n klein Boere mag onder leiding van Kommandant J. Prinsloo op Belmont koppie op hulle gevuur. Teen die volgende oggend was die Britte in die posisie om te heuwel te bestorm, ongeag die verliese. Die Boere het teruggeval na hul perde agter die koppe en teruggekeer na Graspan, waar hulle by die groter mag van Vrystaters en Transvalers onder leiding van Prinsloo en De la Rey onderskeidelik aangesluit het. Die Boere het daar baie koppies beset, maar is ook weggedryf. Die weg het oopgelê vir Methuen se magte na die Modderrivier kruising, waar die Boere die treinbrug gesaboteer het.

De la Rey het besef dat die tradisionele Boeretaktiek van gevegvoering van die hoër gronde hulle blootgestel het aan die Britse artillerie. Dit het daartoe gelei dat hy daarop aangedring het dat dat sy manskappe, sowel as Prinsloo se Vrystaters, op die oewers van die Modder- en Rietrivier se oewers slote grawe. Dit was die begin van loopgraafoorlogvoering in hierdie oorlog. Die plan was om nie te skiet totdat die Britte naby genoeg was om die Boere se voordeel met gewere te kon benut nie, terwyl dit terselfdertyd dit moeilik sou maak vir die Britte om van hulle volle artillerie gebruik te maak. Tydens die vroeë oggendure het die Britse troepe ongesteurd oor die vlakte beweeg, maar Prinsloo se manskappe het reeds van ver af begin vuur, waarna die Britte skuiling gesoek het en die Boere loopgrawe met die artillerievuur bestook het. ‘n Reeks aanvalle deur die Britte het die Vrystaters laat terugval, terwyl die teenaanval van De la Rey die Boere weer in staat gestel om die Britte tot sononder teë te staan. Die Britte het toe teruggeval. De la Rey is gewond en sy seun Adriaan is dood in hierdie slag; hy het Cronjé blameer omdat dié nie ondersteunende magte gestuur het nie.

Nadat die Boere teruggedwing is van die Modderrivier af, het die Britte ‘n tydjie geneem om die Modderfonteinbrug te herstel, terwyl De la Rey sy manskappe weer loopgrawe laat grawe het by voet van Magersfontein heuwel. Sy omstrede taktiek is effektief bewys op 10 Desember toe die heuwel gebombardeer is sonder enige effek. Voor sonsopkoms die volgende oggend is die Hooglandse regimente beveel om naby mekaar te loop. Hulle het oor drade gestruikel waaraan blikkies gehang is wat die Boere gewaarsku het van die indringers se teenwoordigheid en hulle is vinnig afgemaai. Na nege ure van lewensverliese, insluitend die brigade kommandeer, Generaal-majoor Wauchope, en geen vordering nie, het die Britte opgebreek en in wanorde teruggeval. Die slag het tot openbare rou in Skotland gelei. Methuen is verplaas en die bevryding van Kimberley is aan Lord Roberts toe vertrou.

Nietemin, Magersfontein en die gebeure by die Tugelarivier was die keerpunt van die Britse veldtog. Daarna, met massiewe versterkings van regoor die Britse Ryk, het hulle stadigaan begin terugveg en veld gewen. By die Paardeberg (1900-02-08), terwyl De la Rey besig was om manskappe bymekaar te kry vir ‘n weerstand teen Majoor-generaal French se tog na die Colesberg area van die Kaap, is die hopelose Cronjé in ‘n lokval deur Roberts gevang en is die hele bataljon omsingel. Bloemfontein is op 13 Maart 1900 oorgeneem en Pretoria op die 5de Junie. Kruger het na Portugese Oos Afrika gevlug en in Europa in bannelingskap gaan woon.

Slegs ‘n geharde kerngroep Boere was gewillig om steeds aan te hou veg. De la Rey, Louis Botha en ander bevelvoerders het naby Kroonstad ontmoet en ‘n nuwe guerilla-oorlogvoering strategie neergelê. Die Wes-Transvaal is toegedeel aan De la Rey en vir die daaropvolgende twee jaar het hy die mobiele veldtog gevoer, met oorwinnings by Moedwil, Nooitgedacht, Driefontein, Donkerhoek en ander plekke. Hy het groot skade aan goedere en Britse manskappe berokken by Ysterspruit (1902-02-25), waar genoeg ammunisie en voorraad in beslag gelê is om weer lewe te blaas in die Boeremagte. By Tweebosch (1902-03-07) is Methuen en ‘n groot deel van sy agterwag gevange geneem. Alhoewel De la Rey se manskappe baie keer honger en verslete was, het hulle oor die vlaktes gery en tienduisende Britte uitoorlê. De la Rey het ‘n ongekende talent gehad om lokvalle te vermy en baie het geglo dit was omdat hy raad gekry het by ‘n eksentrieke profeet, Siener van Rensburg, wat saam met hom was.

Die Britte het op verskeie geleenthede tydens die oorlog vredesvoorstelle gemaak, vernaamlik in Maart 1901. Dit is egter deur Botha verwerp. Op Kitchener se versoek vergader De la Rey op 11 Maart 1902 met hom Klerksdorp met die oog op vredesonderhandelinge. Die twee vyande het ‘n vriendskapsband gevorm wat by De la Rey vertroue geskep het in die Britte se erns met die vredesvoorstelle. Diplomatieke pogings om ‘n uitweg te vind het voortgeduur en het uiteindelik gelei tot ‘n ooreenkoms om vredesamesprekinge by Vereeniging te hou. In die samesprekinge het De la Rey hom vir vrede beywer. Die Vrede van Vereeniging is op 31 Mei 1902 geteken. Die Boere is belowe dat hulle eventueel selfregering sou bekom (in onderskeidelik 1906 en1907 aan die Transvaal en Oranje Vrystaat toegeken) en is £3 000 000 in skadevergoeding toegeken. Die boere moes die soewereiniteit van Koning Edward VII erken.

Na die oorlog het De la Rey saam met Louis Botha en Christiaan de Wet na Europa gereis om fondse in te samel vir die verarmde Boere wie se plase in die verskroeide aarde beleid van die Britte vernietig is. Die Boeregeneraals se hoofoogmerk was om in Londen met die Britse regering samesprekinge te voer oor verhoging van die skadevergoeding. Hulle maak van die geleentheid gebruik om andere lande in Wes-Europa te besoek. In Vlaams-Belgie word hulle met geweldige entoesiasme verwelkom. Hulle besoek Antwerpen (19-20 September 1902), Brussel (6-7 Oktober 1902) en Gent (8 Oktober 1902). Die grootste bydra word gemaak deur die saldo van die ambulancecomité (ambulanskomitee) van Pol de Mont.

In 1903 het hy na Indie en Ceylon gereis om krygsgevangenes te ooreed om die oath of allegiance te onderneem en na Suid-Afrika terug te keer. Uiteindelik het hy met sy vrou, Jacoba, en oorlewende kinders na sy eie plaas teruggekeer. Jacoba de la Rey het vir die grootste gedeelte van die oorlog in die veld met haar kinders en ‘n paar bediendes rondgetrek. Die gebeure word beskryf in die boek Myne Omzwervingen en Beproevingen Gedurende den Oorlog (1903).

In 1907 is De la Rey verkies tot die nuwe Transvaal Parlement, en was hy een van die afgevaardigdes na die Nasionale Konvensie wat gelei het tot die daarstel van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Hy het ‘n senator geword en Louis Botha, die eerste Eerste Minister ondersteun in sy pogings om Boer en Brit te verenig. ‘n Teen-faksie gelei deur Hertzog wou so gou as moontlik ‘n republikeinse regering vestig en het weerstand gebied teen samewerking met die Britte, en rassisme aangemoedig wat later in die Apartheidstelsel voltrek sou word.

Ernstige geweld het in 1914uitgebreek toe wit mynwerkers aan die Rand met die polisie en troepe gebots het oor die gebruik van swart mynwerkers. De la Rey was in bevel van die regeringstroepe en die stakings is onderdruk, maar ‘n plofbare atmosfeer het ontstaan.

Met die uitbreek van die Eerste Wereldoorlog het ‘n krisis ontstaan toe Louis Botha ingestem het om troepe te stuur om die Duitse kolonie in Suidwes-Afrika in te val. Baie Boere was gekant daarteen om vir Brittanje te veg teen ‘n land wat simpatiek gestaan het teeoor die boere se stryd teen Brittanje. De la Rey se leiding is versoek. In die parlement het hy hom ten gunste van neutraliteit uitgespreek en was hy geheel en al gekant teen oorlog behalwe as Suid-Afrika aangeval sou word. Hy is wel deur Botha en Smuts oortuig om nie enige aksies te onderneem wat tot opstand onder die Boere sou lei nie.

Siener van Rensburg het groot skares gelok met verslae oor sy visioene waarin hy die hele wêreld in oorlog sien verval het en wat sou gelei het tot die einde van die Britse Ryk. Op 2 Augustus het hy vertel van ‘n droom waarin hy gesien het hoe Generaal De la Rey tuis gekeer het, sonder hooftooisel in ‘n perdekar versier met blomme, terwyl ‘n swart wolk met die getal 15 daarop bloed neergestort het. Die opgewonde Boere het dit gesien as ‘n teken dat De la Rey triomfantlik sou wees, maar Van Rensburg self het geglo dat dit ‘n doodsvorbode was.

Op 15 September 1914 het ‘n ou kameraad Generaal C.F. Beyers Kommandant-Generaal van die gewapende magte uit sy pos bedank en sy motor gestuur om De la Rey van Johannesburg na Pretoria te bring om met hom te vergader. Die twee generaals het die aand na die Potchefstroom militêre kamp vertrek waar generaal Kemp ook bedank het. Hulle het onderweg verskeie polisie-padblokkades teëgekom maar geweier om te stop, al is die padblokkades in werklikheid opgestel om die Forsterbende te vang. By Langlaagte het die polisie op die snelverbybewegende motor gevuur en het ‘n opslagkoeël De la Rey se lewe beëindig; sy laaste woorde was: dit is raak, Chrisjan. Hy het soos Van Rensburg voorspel het na sy plaas op Lichtenburg teruggekeer. Baie boere was oortuig dat hy met opset om die lewe gebring is, terwyl ander nie kon glo dat hy nie, ten spyte van sy eed, by die Rebellie sou aansluit nie. Volgens Beyers het hulle beplan om die gelyktydige bedanking van al die senior offisiere te koördineer in protes teen die aanval op Suidwes-Afrika.

Kort na De la Rey se begrafnis het die kortstondige 1914-Rebellie uitgebreek waarin De Wet; Beyers; Generaal Maritz, bevelvoerder van ‘n mag op die grens van die Duitse kolonie, Kemp, en ander Boere veterane weer wapens opgeneem, maar die grootste deel van die leër het getrou gebly en die rebellie is vinnig deur Botha en Smuts onderdruk. Die rebelle is twee jaar later deur Botha in die belang van nasionale rekonsiliasie begenadig. Hoewel De la Rey waarskynlik heeltemal in staat daartoe sou wees om op 67 na die slagveld terug te keer, word daar gevoel dat dit onwaarskynlik is dat hy sy belofte sou breek aangesien hy so ‘n leidende rol gespeel het in die Vrede van Vereeniging.

Daar is baie strate in Suid-Afrika en Nederland wat na De la Rey vernoem is. In Nederland dra altesaam 21 strate sy naam: 12 De la Reystrate, 3 Generaal de la Reystrate, 3 De la Reyweë, 2 De la Reylane en 1 Generaal de la Reylaan. Daar is ook 1 Delareystraat in Antwerpen.

In Lichtenburg, waar De la Rey begrawe is, staan voor die stadsaal ‘n twee keer lewensgrootte standbeeld van hom op sy perd.

Die Volk groet jou Generaal Koos de la Rey. Nag.

nonniedelareyImage1


 

Enjoyed this post? Share it!