Gereg en geregtigheid tel nie meer in die Nuwe Suid-Afrika nie na moordenaar vryspreek word

Dit is hoe geregtigheid in die nuwe SA werk. ’n Werker van die vermoorde Martie Bester (66) is in die hooggeregshof in Bloemfontein tot altesame ses jaar tronkstraf gevonnis nadat Bester se gesteelde vuurwapens en ammunisie in sy besit gevind is.

Waarnemende regter Nosipho Gela het gelas dat Molelekoa Jacob Mothibedi (24) sy twee vonnisse van drie jaar elk op die aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie samelopend uitdien sodat hy effektief tot drie jaar tronkstraf gevonnis is.

Mothibedi is vroeër vrygespreek van die moord op Bester van die plaas Erfbloem by Theunissen in 2015.

Gela het Woensdag in die vonnisoplegging gesê dit is ’n ernstige misdaad wat Mothibedi gepleeg het toe hy Bester se wapens en ammunisie vir haar moordenaars gebêre het.

Dit is verswarend dat hy dit gedoen het terwyl die moordenaars hom ingelig het hoe hulle dit gekry het. Hy het R800 gekry om die moordenaars te help en het dus by die opbrengs van die misdaad gebaat.

Dat Mothibedi al langer as twee jaar verhoorafwagtend en in aanhouding is, is ook in ag geneem toe sy ’n gepaste vonnis vasgestel het.

Gela het gesê omdat Mothibedi skuld op die aanklag beken en met die polisie saamgewerk het, wys dat hy berou het. Sy het ook sy persoonlike omstandighede vir die vonnisoplegging in ag geneem.
Die staatsaanklaer is adv. Nono Lesie-Shale en adv. Temba Diba tree vir Mothibedi op.

* Mothibedi se medebeskuldigde, Lekgotla Mabandla James Matatiele (23), het in November 2015 skuld beken op die aanklag van moord en is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

BRON: BOERE KRISIS AKSIE


Enjoyed this post? Share it!