Gerhardus van Rooyen, seun pedofiel Gert van Rooyen, en sy vrou in hof weens bedrog

Gerhardus van Rooyen, seun van die ontslape pedofiel Gert van Rooyen, en sy vrou, Elana, het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Klerksdorp verskyn weens beweerde bedrog.

Hulle bly in aanhouding terwyl hul woonadres bevestig moet word met die oog op ’n moontlike borgtogaansoek. Die Van Rooyen-egpaar verskyn op 5 Januarie 2018 weer in die hof. Hulle het Vrydag ook om regshulp aansoek gedoen.Van Rooyen het met ’n grys T-hemp, swart dikraambril en baard in die beskuldigdebank gestaan. Elana het ’n grys trui gedra. Die egpaar het styf teen mekaar aangeleun.

Die Van Rooyens word daarvan beskuldig dat hulle ’n voertuig op bedrieglike wyse aan ’n Klerksdorpse vrou verkwansel het. Sy moes na bewering ’n deposito van sowat R30 000 aan Gerhardus oorbetaal, maar daarna het sy glo nooit die voertuig gesien of haar geld teruggekry nie. Volgens sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder in Noordwes, is geld na bewering in Elana se rekening oorbetaal.

Die Van Rooyen-egpaar is Donderdag in Potchefstroom vasgetrek nadat ’n lid van die publiek die polisie in Pretoria laat weet het hulle is in Potchefstroom.

Die polisie in Wonderboompoort (Pretoria) soek Gerhardus al maande lank sedert hy glo sy borgtogvoorwaardes in ’n ander bedrogsaak verbreek het. Hy is vroeër vanjaar in Gansbaai in hegtenis geneem weens dié bedrogsaak aan die Oos-Rand wat verband hou met soortgelyke bewerings as die Klerksdorp-saak.

Van Rooyen het glo ook ‘n hofverskyning ins Benoni misgeloop.

Van Rooyen is op borgtog vrygelaat nadat hy hiervoor in die landdroshof in Benoni verskyn het, op voorwaarde dat hy Gauteng nie mag verlaat nie en ook nie weer bedrog mag pleeg nie.

Van Rooyen het hom egter glo nie van tyd tot tyd by die Villieria-polisiekantoor aangemeld soos wat hy moes nie. Hy moes hom daar aanmeld omdat hy in die Villieria-omgewing gewoon het. Van Rooyen het glo ook ‘n hofverskyning ins Benoni misgeloop. Die polisie het daarna kennisgewings versprei dat hulle na hom soek in verband met bedrog.

Van Rooyen het na bewering verskillende aliasse gehad.

Van Rooyen het glo ook in Pretoria wanvoorstellings aan verskeie mense gemaak, maar nie almal het klagte daaroor ingedien nie. Hy het glo onder meer huise te huur aangebied. Wanneer voornemende huurders deposito’s inbetaal en by die huise opgedaag het om in te trek, was daar na bewering verskeie ander mense wat saam met hulle wou intrek.

Van Rooyen het na bewering verskillende aliasse gehad, onder andere Gerrit van Rhyn, en het vanne soos Smit en Van Dyk gebruik. Die verskillende sake teen Van Rooyen sal moontlik in Pretoria gesentraliseer word.

Die Van Rooyen-egpaar het volwasse kinders. Van hulle woon glo in Potchefstroom.

* Gert van Rooyen sr. het homself en sy verloofde, Joey Haarhoff, in Januarie 1990 doodgeskiet terwyl die polisie warm op hul spoor was weens die verdwyning van ses meisies tussen die ouderdomme van 11 en 14 jaar. Nóg die meisies nóg hul oorskot is gevind.


Enjoyed this post? Share it!