Gesin van Wolmaransstad in Noordwes aangeval na sonsondergebed by die plaaslike moskee, man (70) koelbloedig vermoor

Vyf mense is Sondag in hegtenis geneem in verband met die koelbloedige moord van ʼn 70-jarige man van Wolmaransstad in Noordwes.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê die man was glo verlede Sondag op pad huis toe ná sonsondergebed by die plaaslike moskee toe hy deur die verdagtes agtervolg is.

Mokgwabone sê die verdagtes het op die gesin toegeslaan toe die man binne die huis ingegaan het.

“Hulle het die man, sy vrou en sy dogter na bewering met toue vasgemaak en geld van hulle gevra. Hulle het die man ná ʼn ruk vermoor deur hom met ʼn mes aangeval, waarna hy beswyk het,” sê Mokgwabone.

Die verdagtes het toe die man se vrou en sy dogter na ʼn kitsbank geneem en gedwing om geld te onttrek.

“Hulle het sy vrou en dogter daarna in die bosse langs die N12 in Wolmaransstad afgelaai en toe weggejaag,” sê Mokgwabone.

Die provinsiale kommissaris vir Noordwes, lt.genl. Baile Motswenyane, het die polisie geloof vir hul toewyding om reg en geregtigheid te laat geskied.

Die vyf verdagtes, almal tussen 27 en 49 jaar oud, verskyn Maandag in die Wolmaransstad-landdroshof op aanklag van moord, huisroof en ontvoering.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!