Geskiedkundige politieke tweestryd – sal Zuma mosie van wantroue oorleef?

Die tafel is gedek vir ’n geskiedkundige politieke tweestryd wanneer opposisiepartye Dinsdag in die parlement vir die agtste keer sal probeer om van pres. Jacob Zuma as staatshoof ontslae te raak.

Die verskil met dié nuutste mosie van wantroue in Zuma is dat die 400 LP’s vir die eerste keer in die geheim oor sy toekoms as staatshoof sal kan stem.

Dít volg nadat Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Maandag vriend en vyand verras het met haar onverwagse aankondiging dat daar in die geheim gestem sal word.

Dié stemmery sal ook plaasvind te midde van twee massa-optogte na die parlement deur opposisiepartye en die burgerlike samelewing aan die een kant, en Zuma-ondersteuners aan die ander kant.
Die ANC het kort ná Mbete se aankondiging egter “volle vertroue” in ANC-LP’s uitgespreek en die party glo dat die mosie sal misluk.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het ná Mbete se aankondiging weer die mosie as ’n “politieke foefie” bestempel wat daarop gerig is om die verkose ANC-regering te ondermyn en die ANC as party te breek en te verswak.

“Ons herhaal ons standpunt dat ons teen die mosie sal stem.”

Dít was in ooreenstemming met prof. André Duvenhage, politieke ontleder by die Noordwes-Universiteit, se mening dat Zuma en sy ondersteuners doodseker is van hul saak “omdat hy homself nooit blatant aan so ’n risiko sou blootstel nie”.

’n Meerderheid van 201 stemme uit die 400 LP’s – dus 50% plus een – is nodig vir die mosie om suksesvol te wees.
Mbete het in haar aankondiging gesê die konstitusionele hof het vroeër aangedui dat ’n geheime stemmery noodsaaklik word “waar die heersende atmosfeer vergiftig of hoogs gelaai is”.

“Dit is my plig om verantwoordelik op te tree as ek assesseer watter impak my besluit op alle LP’s sal hê.”
Daar is reeds wyd berig dat die ANC dreig om teen enige van sy LP’s op te tree wat nie soos die party die mosie sal verwerp nie.

Verskeie ANC-LP’s soos dr. Makhosi Khoza, Pravin Gordhan, Derek Hanekom en Mondli Gungubele het egter al openlik gesê dat hulle met hul gewete tydens die mosie sal stem.

Aan die ander kant was opposisiepartye soos die DA, EFF, UDM, IVP, Cope, ACDP en VF Plus ná Mbete se aankondiging Maandag ook oortuig dat genoeg ANC-LP’s wat keelvol is oor die impak van staatskaping en Zuma se noue bande met die Guptas die mosie sal steun.

Dié partye meen egter die verantwoordelikheid nou vierkant op ANC-LP’s se skouers is.

Juluis Malema, EFF-leier, het Maandag tydens ’n gesamentlike mediakonferensie van opposisiepartye gesê Dinsdag is die geleentheid vir (ANC-LP’s) om te demonstreer dat hulle ook moeg is van korrupsie.

“Hulle het nou geen rede om agter enige vorm van intimidasie of beskuldiging weg te kruip nie.”

Volgens Malema sal die opposisie aanhou om ANC-LP’s te probeer oortuig “totdat ’n aankondiging gemaak word dat Zuma nie meer president is nie. As Zuma wen, sal ons aanhou daarmee”.

Politieke partye vergader Dinsdagoggend met Mbete om die logistiek oor die stemmery te finaliseer.

Intussen het die Save South Africa-veldtog Maandag alle LP’s in ’n verklaring versoek om die mosie te steun en sodoende die wil van Suid-Afrikaners te eerbiedig en te respekteer.

Wayne Duvenage, voorsitter van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), het gesê Mbete se besluit waarborg egter nie dat Zuma verwyder sal word nie.

“Ons sal (Dinsdag) uitvind of daar genoeg morele moed onder ANC-LP’s is om die besluit te neem wat baie glo die regte een is deur ’n korrupte president te verwyder.”

Duvenhage het gesê Mbete se besluit het hom verbaas.

“Dit beteken dat die Zuma-faksie seker is van hul saak.”

Daar is egter volgens Duvenhage ’n kans dat die gety kan draai.

“Ek verwag dat daar vanaand (Maandag) al ontsettende mobilisasie (vir steunwerwing) onder ANC-LP’s sal wees. Daar sal emosie wees en hoe dit uitspeel, kan daardie proses draai.

“As ek my geld moet wed, sal Zuma dit oorleef. Dit kan egter nie uitgesluit word dat die punt reeds bereik is waar die gety só sterk teen Zuma is dat hy uitgestem kan word nie.”


 

Enjoyed this post? Share it!