Geskorste Frankfort-stadshoof sit tuis vir R3,4 m

Die DA is geskok dat Puseletso Radebe, munisipale bestuurder van die Mafube-munisipaliteit (Frankfort), wat sedert 9 Desember 2014 geskors is, vir byna drie jaar lank sy volle salaris ontvang het terwyl hy net by die huis gesit het.

Die geld wat aan hom oor die drie jaar uitbetaal is, beloop R3,4 miljoen.

So sê Mariëtte Pittaway, DA-lid van die Vrystaatse wetgewer, en kiesafdelingshoof vir die Mafube- en Metsimaholo (Sasolburg)-munisipaliteit.

Pittaway sê dit het gebeur terwyl die Vrystaatse provinsiale regering die Mafube-munisipaliteit onder administrasie geplaas het. Mafube het ook versuim om die salarisse van munisipale werkers betyds te betaal en dienslewering is bykans totaal gestaak in die munisipaliteit.

“In die drie jaar dat Radebe geskors is, het die stadsraad versuim om enige tugverhoor vir Radebe te reël.”

Die feit dat Mafube heeltyd deur die ouditeur-generaal ’n verwerping van oudit-uitkomste gegee is, word aangevoer as die rede waarom Radebe geskors is, sê Pittaway.

Sy sê Sisi Ntombela, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het die skokkende bekentenis gemaak nadat die DA vrae hieroor van die Vrystaatse wetgewer-kant gevra het.

“Wat nog meer verstom, is dat Radebe se kontrak in Julie 2017 verstryk het, maar in haar antwoord erken Ntombela dat hy nog ’n salaris tot die einde van September ontvang het.”

Pittaway wil vir Ntombela vra dat die geld wat in Augustus en September aan Radebe uitbetaal is, teruggeëis moet word.

Sy sê die feit dat die geld in die eerste plek uitbetaal is, maak nie dat ’n mens nie die administrateur wat vir Mafube aangestel is, vertrou nie. “Die DA vra dat ernstige stappe gedoen sal word teen amptenare wat vir dié betalings verantwoordelik was.”

Pittaway sê noudat Radebe se kontrak beëindig is, sal hy gerieflikheidshalwe van ’n tugproses gevrywaar word.

“Sy skorsing was baie winsgewend vir hom.”

Sy sê die enigste rede hoekom Radebe steeds geld van die belastingbetalers van Mafube gekry het, moet wees omdat Ace Magashule, die Vrystaatse premier, hom beskerm.

“Magashule as ANC-voorsitter is daarvoor bekend dat hy lojaliste na sleutelposte in die Vrystaatse regering ontplooi.”

Dit is presies hoe die ANC sy eie beskerm ten koste van inwoners wat ly.

Magashule het vroeër gesê die groot probleem met Mafube is dat hy nie ’n stewige belastingbasis het waaruit geld gehaal kan word om die munisipaliteit volhoubaar te bestuur nie. “Julle kan enigiemand daarheen stuur; niemand sal daardie munisipaliteit volhoubaar kan maak nie. Omtrent al die blankes het ook weggetrek uit ’n klein dorpie soos Cornelia wat in Mafube se bedieningsgebied val. Die inwoners is meestal werkloos en verarm.”

Mafube is ook nou een van vier Vrystaatse munisipaliteite waarby Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, onlangs kom ingryp het.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!