Geskorste nasionale polisiekommissaris onregmatig as Polmed-verteenwoordiger aangestel

Die gediskrediteerde voormalige polisiekommissaris, genl. Riah Phiyega, is onlangs as ʼn voortsettingsverteenwoordiger by die mediese skema vir polisielede, Polmed, aangestel.

Dit volg ten spyte van die feit dat die Farlam-kommissie van ondersoek na die Marikana-voorval negatiewe integriteitsbevindings ten opsigte van Phiyega gemaak het en wat gelei tot haar skorsing as nasionale kommissaris.

Volgens Schalk de Bruin, hoof van spesiale projekte by Solidariteit, is dit voorts te betwyfel of Phiyega werklik na die behoeftes van polisielede wat aan die mediese skema behoort, sal omsien.

“Phiyega se geloofwaardigheid is gekrenk weens die Farlam-kommissie se bevindinge teen haar na afloop van die Marikana-voorval. Sy is boonop in Oktober 2015 hangende die ondersoeke teen haar geskors. Die betaalde skorsing was tot en met die beëindiging van haar kontrak in Junie vanjaar van krag,” het De Bruin gemeld.

De Bruin verduidelik voorts dat dit ʼn vereiste is dat voortsettingsverteenwoordigers van Polmed op pensioen geplaas behoort te wees, hetsy weens mediese of ouderdomsredes. “Phiyega voldoen nie aan die vereistes om in hierdie posisie te dien nie omrede haar vaste-termynkontrak wat haar tot die polisie verbind het en wat boonop in Junie vanjaar beëindig is,” het De Bruin verduidelik.

Solidariteit het reeds ʼn skrywe rakende die saak gerig en sy misnoeë met Phiyega se aanstelling te kenne gegee. “Solidariteit sal hierdie saak egter nie daar laat nie en sal derhalwe alles in sy vermoë doen om te verseker dat hardwerkende polisielede die beste verteenwoordiging by Polmed geniet,” het De Bruin gesê.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!