Geweld tydens betogings neem toe

Die geweldsvlak tydens betoging het die afgelope jare in die ANC se bewindstyd toeggeneem.

En meer betogings word gewelddadig, aldus die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) se Lizette Lancaster.

Haar reaksie volg op die bekendstelling van ‘n verslag oor betogings vanaf 1997 tot 2013 wat deur die Universiteit van Johannesburg saamgestel is.

Gemiddeld 11 betogings het in die betrokke tydperk daagliks in Suid-Afrika plaasgevind volgens hierdie verslag, waarin slegs betogings vervat is wat aan die polisie gerapporteer is.

Benewens die geweld wat aan die toeneem is, het betogings in alle provinsies behalwe in die Wes-Kaap toegeneem.

Suid-Afrika het ‘n baie ontevrede arbeidsmag want luidens die verslag was 46% van die betogings arbeidsverwant. Selfs in die buiteland, soos nou kort tevore in Kanada, het swart brandbestryders die land in die skande gesteek deur daar oor hul vergoeding te betoog.

Sowat 22% betogings is gemeenskapsverwant en glo net 0,4% hou verband met xenofobie.

Sentraal-Transvaal het in die 16 jaar van 1997 tot 2013 die meeste betogings gehad, naamlik 14 229, oftewel 2,3 per dag.

Die polisie het vandeesweek aangekondig dat daar beoog word om sy openbare orde-eenheid in die volgende drie jaar aansienlik uit te brei van meer as 4 000 lede tot nagenoeg 11 300. Die besonderhede is vandeesweek deur die hoof van die eenheid, Zeph Mkhwanazi, genoem tydens samesprekings oor betogings by die ISS in Pretoria.

Hierdie onrusbarende gegewens omtrent betogings in Suid-Afrika moet saamgelees word met die besluit van die SABC as regeringsmondstuk om nie meer beeldmateriaal oor (gewelddadige) betogings uit te saai nie.

Die besluit is geneem in die aanloop tot die munisipale verkiesing wat in Augustus plaasvind.

Bron – Vryburger


Enjoyed this post? Share it!