Geweld vlam op in Zeerust – onluste in SA duur voort

Sewe mense is Maandag in Zeerust in die Noordwes-provinsie gearresteer ná ‘n gewelddadige protes optog.

Dit is bevestig deur die polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone.

Onluste het uitbreek in die Itireleng-lokasie. Al sewe van die verdagtes wat gearresteer is, is swart vroue. Volgens die DA se verklaring, is lokasie-inwoners gemaan om nie winkels in privaatbesit te plunder weens ‘n gebrek aan dienslewering nie.

Die VF+ se raadslid, Karlien Venter, sê alhoewel paaie nie afgesper is nie, is winkels gesluit en skole het vroeg verdaag.

Mokgwabone sê dat die sewe binnekort in die Zeerust-landdroshof sal verskyn op aanklagte van openbare geweld. Hy sê die situasie is tans kalm, maar dat polisiebeamptes in die gebied ontplooi sal word want geweld kan weer opvlam.

“Ons wil weer ‘n nederige appèl aan lede van die gemeenskap rig om seker te maak dat hulle die oppergesag van die reg respekteer, asook die regte van ander burgers wat nie deel van die protes is nie,” het Mokgwabone bygevoeg.
In Coligny word Phillip Schutte en Pieter Doorewaard volgende week Vrydag terug in die hof verwag. Verskeie huise is aan die brand gesteek en drie vragmotors is tydens die gewelddadige betogings uitgebrand.

Daar was ook protes in Lichtenburg, wat na berig word veroorsaak is deur ongelukkigheid oor swak dienslewering. Winkels is geplunder en voertuie, insluitend ‘n Njala-polisievoertuig, is met klippe gegooi en aan die brand gesteek.

Daar word berig die rede vir die onluste in Zeerust is nog onbekend. In 2014 het die inwoners oproerig geraak oor ‘n gebrek aan water en die paaie afgesper naby die grenspos met Botswana. Motoriste is met klippe bestook.
Ook in 2009, het onluste uitgebreek oor swak dienslewering.

Bron: Praag.co.za, 16 Mei 2017


 

Enjoyed this post? Share it!

 
  • Mary

    Berig het foute tov van die woongebied se naam