Gewelddadige betogings oor dienslewering saai verwoesting in township buite Secunda

‘Bly binne’, waarsku polisie ná verwoesting in eMbalenhle.

Die polisie in eMbalenhle het inwoners gewaarsku teen moontlike verdere gewelddadige betogings. Minstens 100 betogers is Maandag in hegtenis geneem tydens ’n betoging oor dienslewering in dié township sowat 22 km buite Secunda in Mpumalanga.

Verskeie munisipale geboue is afgebrand en winkels is geplunder.

Kapt. Magonseni Nkosi, polisiewoordvoerder, sê woedende betogers het Sondag ná ’n gemeenskapsvergadering by die stadion die strate van die township ingevaar, ’n munisipale gebou beskadig en deels aan die brand gesteek.

“Hulle het Maandagoggend weer byeengekom en nog drie munisipale geboue beskadig en gebrand en strate met klippe en brandende voorwerpe versper. Die een gebou wat hulle afgebrand het, is die voormalige munisipale bestuurder se onderneming, Taifa Joint – ’n tipe kuierplek,” sê Nkosi.

Volgens Nkosi hou die betoging verband met swak dienslewering.

Hou die situasie dop en vermy enige paaie of gebiede waar daar gewelddadige betogings plaasvind

eMbahlenhle val onder die Govan Mbeki-munisipaliteit. Weens skuld aan Eskom was die gebied onderworpe aan kragonderbrekings. Eskom het egter Maandag betaling van die munisipaliteit ontvang.

Nkosi sê voertuie wat teenaan die brandende munisipale hoofkantoor geparkeer was, het ook aan die brand geraak.

 

eMbalenhle4

“Die polisie het dit reggekry om die betogers vir ’n oomblik te laat bedaar, maar hulle het gou weer voortgegaan met die verwoesting,” sê hy.

“Terwyl die polisie probeer het om hulle in toom te hou, het hulle ook by buitelanders se winkels ingebreek en die winkels geplunder. Dit het tot gevolg gehad dat meer as 100 mense in hegtenis geneem is.”

 

eMbalenhle3

Volgens Nkosi ondersoek die polisie ’n saak van openbare geweld. “Ons besef sommige verdagtes was dalk op die verkeerde tyd op die verkeerde plek en is eintlik onskuldig. Dit sal tydens die ondervraging uitkom. Party het ook nie noodwendig gesteel nie. Almal sal egter intussen in polisieaanhouding bly en ná die ondervraging vir die verskillende misdade aangekla word.”

Nkosi sê die huidige stand van geweld maak dit moeilik om ’n hofdatum bekend te maak, maar “ons hou die situasie dop en sal die verdagtes in die hof hê binne die wetlike tydgleuf (48-uur ná in hegtenisneming).”

Die polisie het die betogers glo met rubberkoeëls gedreig, maar geen skote is geskiet of traangas is gebruik om die oproerige skare te beteuel nie.

Nkosi waarsku die inwoners van eMbalenhle om so ver moontlik uit die strate te bly, ingeval betogers Dinsdag weer opruk.

 

eMbalenhle3

“Hou die situasie dop en vermy enige paaie of gebiede waar daar gewelddadige betogings plaasvind,” het hy gemaan.

Op sosiale media het inwoners mekaar gelukgewens met hul “saamstaan-poging”.

Bonginkosi Sunnyboy Mnisi het die gemeenskap bedank vir hul optrede omdat inwoners so lank al sukkel met krag- en waterprobleme.

“Ek het respek vir eMbalenhle se mense,” het Star Rhu Raina Tstutsuma op Facebook geskryf. Maar hy was egter omgekrap oor die kuierplek wat afgebrand is.

“Geen pret die naweek nie,” het hy opgemerk.

 

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!