Geweldpleging in Pta

Busse Mamelodi uitgebrand
Geweldpleging in Pta – deel van N1, R101 gesluit
21 busse in ligte laaie in Mamelodi; ekstra polisielede ontplooi
Volgens EWN is minstens drie vragmotors in Atteridgeville aan die brand gesteek.06:53
Burgemeester Kgosientso Ramokgopa het op Facebook geskryf hy doen ’n beroep op die “gedissiplineerde lede van die ANC in Tshwane om gewelddadige aksies te staak”.“Dit gaan ons enigste en kollektiewe doel wees om te verseker dat die ANC aan die bewind bly in Tshwane en dat Thoko Didiza ’n geleentheid gegee moet word om te floreer (thrive),” lui sy Facebook-inskrywing.

06:35

Motoriste word gemaan dat voortgesette protesoptrede in Pretoria Dinsdagoggend tot die sluiting van onder meer die volgende paaie gelei het:

*Die N1 tussen die Pumulani-tolhek en Hammanskraal, asook die R101 – gesluit weens betogings,
*Seeiso-, Maunde- en Khozastraat in Atteridgeville is met brandende motorbande en klippe versper.
*Die Daspoort-tonnel in Pretoria-Wes is ook gesluit weens betogings.

00:02

Die ANC se plan om sy strydende faksies in Tshwane te versoen deur ’n kompromis-burgemeesterskandidaat aan te wys, het ­geboemerang met die uitbreek van nog geweld.

Die townships in en om Pretoria het Maandagaand gebrand uit protes teen die benoeming van Thoko Didiza as die ANC se burgemeesterskandidaat vir die Tshwane-metro.

ANC-lede – vermoedelik ondersteuners van die huidige burgemeester, Kgosientso ­Ramo- kgopa – het motorbande in Atteridgeville gebrand en paaie met klippe versper.

In Hammanskraal en Soshanguve is busse en motors onder klippe gesteek.

In Mamelodi is minstens 21 busse aan die brand gesteek.

Nozipho Jafta, bemarkingsbestuurder van Autopax, het bevestig 19 van hul busse is aan die brand gesteek. Geen van hul bestuurders is beseer nie.

Jason Thepo, Putco-woordvoerder, het gesê twee van hul busse het gebrand.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, het gesê ’n bode is in Mamelodi aangerand en ’n munisipale motor beskadig.

Die munisipaliteit het sy werkers aan die townships onttrek.

Die polisie het nog lede van die openbare-orde-eenheid ingeroep om die geweld in die townships in bedwang te bring, het kapt. Tsekiso Mofokeng, polisie- woord­voerder, gesê.

Vroeër gister is drie metropolisielede lig beseer toe betogers hul motor op die hoek van Francis Baard- en Beckettstraat in die middestad omgekeer het.

’n Motoris se selfoon is afgevat en deur betogers vernietig toe hy foto’s van die protes probeer neem het.

Klippe is ook na inwoners van woonstelgeboue gegooi wat foto’s probeer neem het.

Die polisie ondersoek klagte van openbare geweld.

’n ANC-lid op die toneel het gesê hulle is ontevrede omdat plaaslike takke nie oor Didiza se aanwysing geraadpleeg is nie en omdat hulle wil hê Ramokgopa moet nog ’n termyn dien.

Eergister is ’n ANC-lid by die Pretoriase skouterrein doodgeskiet toe die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die plaaslike strukture wou inlig oor hul besluit om Didiza as kandidaat aan te wys.

Die manier waarop Didiza se kandidatuur opgedwing is, kan haar taak om die faksies te verenig, bemoeilik.

Ralph Mathekga, ’n onafhanklike politieke ontleder, sê die verdeeldheid in die streek kan vererger “omdat daar nou nie net een woedende faksie is nie, maar twee”. “Hulle kan die ANC dalk saboteer.”

Didiza, wat in Pretoria woon, is ’n deurwinterde politikus en ’n voormalige minister van landbou en van openbare werke in Thabo Mbeki se kabinet.

Sy is nou ’n gerespekteerde voorsittende beampte in die Nasionale Vergadering.

Volgens Mathekga is haar kandidatuur duidelik ’n poging van die ANC om die voortdurende faksiegevegte die hoof te probeer bied.

Pres. Jacob Zuma se hand is in dié besluit te sien, het Mathekga gesê.

“Sy word nou as deel van die Zuma-faksie beskou omdat die ANC die besluit op nasionale vlak geneem het. Gauteng is ’n baie vyandige plek vir Zuma-mense.”

– Llewellyn Prince, Nico Gous, Philda Essop en News24 


 

Enjoyed this post? Share it!