Gigaba se begrotingstoespraak laat tuimel die Rand tot op sy laagste vlak in tien maande

Net nadat Malusi Gigaba sy tussentydse begrotingsrede in die parlement gelewer het, het die rand met 2 persent getuimel en sy laagste vlak in tien maande bereik.

Dit was die markte se stil maar verdoemende reaksie op Gigaba se rede.

Hy het min goeie reaksie gekry oor sy toespraak. Inteendeel, is hy daarvan beskuldig dat hy baie woorde gebruik het sonder om iets te sê; het ‘n akademikus gesê dat as dit ‘n honeursverhandeling van ‘n student sou wees, hy nie sou geslaag het nie, en die ekonoom Dawie Roodt sê Gigaba het syfers afgelees terwyl dit duidelik is dat hy nie ‘n benul gehad het waaroor hy praat nie.

Gigaba het erken dat die land ʼn ekonomie krisis staan beleef, maar hy het geen voorstel of plan om die krisis op te los nie.

In die lig hiervan sê dr. Pieter Groenewald van VF Plus, is dit moeilik om te sien hoe rommelstatus teen die einde van die jaar vermy kan word.

Dr. Groenewald sê dat die minister die kritiese probleem, naamlik gebrekkige ekonomiese groei vermeld, maar dan niks gesê het om vertroue te skep in die land se ekonomie en wat beleggers na die land sal lok nie.

“Dit is juis van die allergrootste belang om beleggers te lok om ekonomiese groei te kry. Werkloosheid in Suid-Afrika is tans 38 persent. Dit plaas ʼn geweldige druk op bestaande belastingbetalers en die fiskus want daar moet dienste gelewer word en daar is nie geld daarvoor nie.

“Net die rente op Suid-Afrika se skuld beloop tans R163,3 miljard. En die voorspelling is dat dit teen 2022 R223,4 miljard gaan wees meet ʼn totale skuldlas van sowat R1 biljoen. Dit is een miljoen miljard rand. Dit is ʼn geweldige skuldlas.

“Daarom twyfel die VF Plus nie daaroor dat belastings en persoonlike belastings in Februarie aanstaande jaar verhoog gaan word nie. Die belastingbetalers moet hulle maar gereed maak vir aansienlike belastingverhogings. Die VF Plus sê dit is onbillik om die reeds swaar belaste belastingbetalers verder te melk net sodat hulle moet toesien hoe hul geld in ʼn bodemlose put van diefstal en korrupsie verdwyn.

“Die minister erken dat hy bekommerd is oor die groot voorkoms van belastingvermyding. Hy hoef egter nie te wonder waarom dit gebeur nie. Mense wat sien dat hul belastinggeld nie behoorlik aangewend word nie, gaan so min as moontlik probeer betaal.

“Verwysend na die probleme by staatsinstellings soos die SAUK, is al wat die minister kan sê dat ʼn nuwe raad aangestel is. Hy bied geen werkbare plan om die ware probleme aan te spreek nie. Die jongste syfers dui aan dat tesourie waarborge verskaf vir staatsentiteite se skuld wat nou reeds R445 miljard beloop.

“Geen land kan suksesvol wees as sy mense totaal oorbelas word net om buitensporige staatskuld te delg nie,” sê dr. Groenewald.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!