Gordhan se lot steeds onseker

Die minister van finansies, Pravin Gordhan, se lot is steeds in die weegskaal, nadat hy hom nie verlede week laat intimideer het om op die Valke se rooi tapyt te verskyn nie.

Die nasionale vervolgingsgesag het intussen wel bevestig dat hulle ‘n dossier oor Gordhan ontvang het, maar ontken dat hy al aangekla is of op die punt staan om gearresteer te word. Die dossier word nog eers bestudeer, waarna hulle sal besluit of daar genoeg, indien enige, gronde bestaan vir die vervolging van Gordhan.

Intussen is die drieparty-alliansie onder geweldige druk nadat die SA Kommuniste Party die naweek ‘n striemende aanval op die ANC gedoen het ter verdediging van Gordhan, wat skynbaar ook ‘n lid is van die SAKP.

Al is Gordhan se lot nog onseker, is ‘n ander aspek egter wel seker, en dit is dat die land se ekonomie geweldig skade ly deur die hele sage. Die rand het al meer as vyf persent van sy waarde verloor, wat waarskynlik daartoe kan lei dat motoriste volgende maand weer meer vir brandstof kan betaal. Daar word ook nou openlik gespekuleer dat die Suid-Afrikaanse ekonomie voor die einde van die jaar rommelstatus gaan hê.

Bron: Vryburger


 

Enjoyed this post? Share it!