Gradeerders deel ‘n hele paar dwarsklappe uit na kragvoorsiener Eskom

Eskom was reeds op rommelstatus, maar is dieper in rommel in afgegradeer.

Moody’s Investors Service het Eskom met een vlak afgegradeer en waarsku dat dit op hersiening is vir selfs ’n verdere afgradering.

Eskom was reeds op twee vlakke onder beleggingsgraad, op Ba2, en word afgegradeer tot Ba3. Nog een afgradering sal Eskom se gradering van spekulatief in hoogs spekulatief verander.

Dit kom nadat S&P Global Ratings Eskom Dinsdag met twee vlakke afgegradeer het, van B+ tot B- op S&P se skaal. Dis reeds hoogs spekulatief en ’n verdere afgradering tot CCC+ sal Eskom klassifiseer as ’n maatskappy met ’n “aansienlike risiko” van wanbetaling.

Die vooruitsig by sowel Moody’s as S&P is negatief.

Moody’s sê die swak korporatiewe beheer en kontantvloeiprobleme by Eskom noodsaak die afgradering. Daarby is die staat se vermoë om Eskom te ondersteun, nou nie meer “hoog” nie, hoewel steeds “sterk”.

Moody’s het staatskuld Vrydagaand op hersiening geplaas en gewaarsku dat ’n afgradering ná die Februarie-begroting kan kom, terwyl S&P staatskuld met een vlak afgegradeer het. Staatseffekte in rand is nou een vlak onder rommel by Fitch Ratings en S&P. Staatseffekte in dollar en euro is een vlak onder rommel by Fitch en twee onder rommel by S&P.

Volgens Moody’s moet Eskom nog R24 miljard se effekte uitreik vir die jaar tot einde Maart.

Daarby gaan hy baie finansiering benodig oor die volgende vyf jaar, tensy hy sy kapitaalbesteding verminder, wat onwaarskynlik is.

Die aptyt van beleggers vir Eskom-effekte is egter beperk, juis omdat Eskom se bande met die Gupta-familie en sy swak bestuur in die nuus is, volgens Moody’s.

Die staat het R350 miljard se waarborge vir staatsondernemings, maar baie van die geld is óf reeds gebruik óf reeds aan toegewys.


Enjoyed this post? Share it!