Griekwastad begrafplaas word gevandaliseer: beendere van vermoedelike oorskot is op paar plekke aangetref

Inwoners van Griekwastad in die Noord-Kaap is ontstoke oor wat by ’n begraafplaas in die dorp aan die gang is en het ’n klag by die polisie oor grafskending ingedien.

Grafte in die Griekwastad-begraafplaas, een van twee op die dorp, word glo gevandaliseer, die beendere van vermoedelik menslike oorskot is op ’n paar plekke aangetref en nuwe grafte word na bewering op onregmatige plekke gegrawe.

“Die plek lyk ongeorganiseerd, dis chaos en onaanvaarbaar. Daar word sommer reg langs bestaande grafte nuwes gegrawe, maar wanneer daar dan klaarblyklik op beendere afgekom word, word dit weer toegegooi en op ’n nuwe plek begin grawe. Grond word op bestaande grafte gegooi en net so gelos,” sê Zirk Janse. Hy en ds. Piet Otto het ’n klag by die plaaslike polisiekantoor ingedien.

Otto sê dit lyk nie of daar ’n begraafplaasplan bestaan nie.

“Dit lyk nie of grafte uitgelê word nie. Die begraafplaas is vir alle praktiese doeleindes vol, hoewel daar nog ’n stuk grond op die terrein beskikbaar is vir ontwikkeling, maar dis glo harde grond.

“Daar word al vir twee jaar met die stadsraad onderhandel om ’n nuwe begraafplaas te ontwikkeling.

Volgens Otto en Janse is die begraafplaas ’n steen des aanstoots.
“Die een graf is sommer oopgelos, dit lyk of dit al ’n rukkie kan wees, want daar lê leë bottels en vullis daarin. Geen beheer word uitgeoefen nie en die heining is beskadig.”

Navrae aan die Siyancuma-munisipaliteit was vergeefs. Die landlyn vir die kantoor in Griekwastad is buite werking en die selfoonnommer waarna Netwerk24 verwys is, was sedert Vrydag laatoggend afgeskakel. Vroeër die oggend het iemand geantwoord en onderneem om terug te skakel.

Bron: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 
  • Lillie Jacobs

    ai tog my groot ouers is ook daar begrawe …wonder waar moet mens gaan .