Gronddebat: ‘Boere te vinnig beskuldig’

“Dit is baie maklik vir iemand om op ‘n politieke platform te klim en te verkondig boere het grond gesteel. Die kwessie is baie meer ingewikkeld as dít.”

Kommersiële boere is ‘n maklike teiken vir politici wat vanaf seepkiste goedkoop politieke punte in die grondhervorming-debat wil aanteken, sê me. Nompumelelo Runji, politieke ontleder.

Sy was een van die paneellede in die Nasie in Gesprek-bespreking op Senwes en Graan SA se jaarlikse Toekomsfokus-dag op Nampopark buite Bothaville.

“Dit is baie maklik vir iemand om op ‘n politieke platform te klim en te verkondig boere het die grond gesteel. Die kwessie is baie meer ingewikkeld as dít.

“Boere besit nie die meeste grond nie. Die Staat wel, en groot korporasies besit ook baie grond. ‘n Regeringsoudit (oor wie hoeveel grond besit) is gedoen, maar nie veel is nog gesê oor die uitslag hiervan nie. Dis ‘n kwessie wat dringend aandag moet kry.

Sinnelose debat
“Intussen raak ons verlore in ‘n sinnelose debat oor wie grond van wie gesteel het. Daarmee sit ons soveel druk op hierdie gemeenskap (kommersiële boere) wat ons kos moet produseer, en ons skrik hulle af. Boere moet eerder die geleentheid gegun word om dít te doen wat hulle doen en goed kan doen (boer), en dan moet hulle elders ‘n bydrae lewer waar hulle kan.”

Runji het in dieselfde asem na die voormalige bantustans (apartheid-tuislande) verwys, waar inwoners in bate-armoede leef, en nie sekuriteit het vir finansiering om ‘n sake-onderneming te begin nie. “Wat kan gedoen word om daardie mense grond te gee? Die Staat het werklik nodig om in hierdie opsig die leiding te neem.”

Runji het gereageer nadat mnr. Johan van Huyssteen, Vrystaatse Jongboer van die Jaar, gesê het plaasaanvalle en -moorde verhoed boere om uit hul hoekies te kom en die brug na aktiewer samewerking met ander gemeenskappe oor te steek.

“Jy is heeltyd net in oorlewingsmodus; jy wil net tot môre oorleef. Dan is dit moeilik om tyd te maak vir ander dinge, om vordering in ‘n ander rigting te maak. En dan moet jy nog van jou plaaslike munisipaliteit se rolle ook vervul net om jou werk te kan doen,” het Van Huyssteen gesê.

Werklikheid
Runji het gesê plaasaanvalle en –moorde is ‘n werklikheid. “Ons kan nie argumenteer dat dit nie ‘n feit is nie, en dat dit nie gebeur nie. Maar die reaksie hierop mag nie een van terugtrek wees nie. Die grootste hoeveelheid geweld in Suid-Afrika word onder die armes in ons townships gepleeg.

“Die boerdery-gemeenskap en hierdie omliggende gemeenskappe staar dieselfde uitdaging in die gesig, en moet in solidariteit saamwerk om ‘n oplossing te vind vir die gevaar wat beide bedreig. Selfs net hierdie taalgebruik waarin na verskillende gemeenskappe verwys word, vind ek problematies.

“As ek oor my gesin se veiligheid bekommerd is, moet ek ook oor my buurman se gesin bekommerd wees. So ‘n soort langtermyn-samewerking kan nie net op feite geskoei wees nie, maar op wedersydse begrip. Dit beteken nie ons hoef saam te stem nie; ons moet ‘n gemene belang idenfiseer en rondom dit saamwerk.”

Voorbeeld vir stedelinge
Sy meen landelike gemeenskappe kan in hierdie opsig ‘n groot voorbeeld vir stedelinge stel, omdat mense in landelike gemeenskappe in groter mate op mekaar aangewese is. “In die stede is die enigste gemene belang wat verskillende gemeenskappe bind, hul gedeelde bekommernis oor korrupsie.”

Runji meen Suid-Afrikaners moet ophou om hul soveel aan politieke uitsprake te steur. “Hou op om na die politici te luister; luister eerder na mekaar. Ons hoef nie aan die politici verantwoording te doen nie; hulle moet aan ons verantwoording doen. Dwing hulle om hul mandaat na te kom. Hou op om hulle gedurig die geleentheid te gee om die verskille tussen ons vir politieke punte uit te buit.

“Hierdie soort verpolitisering is in alle politieke partye ‘n probleem. Kyk maar net wat gebeur in munisipaliteite die land oor. Fokus eerder op ons werklike uitdagings, en dwing jul raadslede en politici om te doen wat hulle moet doen. Ons moet groter druk op ons munisipaliteite begin plaas om met die sake van die dag aan te gaan, en die boodskap oordra dat ons moeg is vir politiekery.”

Deur: Landbou.com


 

Enjoyed this post? Share it!