Groot bohaai oor Helen Zille se wasgewoontes het tot internasionale nuus gehaal

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, verstaan nie waarom sy, wat weens waterbeperkings in die provinsie net een keer elke drie dae stort en ander dae uit ’n wasbak was, nou die internasionale nuus gehaal het nie.

Zille het dít Saterdag vanaf haar Twitter-rekening getwiet nadat haar uitlatings oor haar wasgewoontes ook opslae in die internasionale nuusmedia gemaak het.

Die Independent in Engeland het ook berig oor Zille wat gesê het dat sy net een keer elke drie dae stort ten einde water te bespaar ten spyte daarvan dat sy soms oor die “higiëniese en estetiese gevolge” daarvan bekommerd is.

Die BBC het ook berig oor Zille se wasgewoontes en dat geen opoffering vir haar te groot is nie.

Die bohaai oor Zille se wasgewoontes kom nadat sy dit self die afgelope week in ’n rubriek op die Politicsweb-webwerf onthul het.

Ek en my man probeer só min water gebruik dat ek soms bekommerd is oor die higiëniese en estetiese gevolge.

Dit volg ook nadat Times Live op 14 September berig het dat Zille en haar familie na bewering versuim het om aan waterbeperkings by die amptelike premierswoning, Leewenhof, gehoor te gee en dat Wes-Kaapse belastingbetalers meer as R90 000 moes opdok vir ’n watersuiweringstelsel daar.

Dié stelsel sou glo water uit ’n stroom by Leewenhof suiwer en dit sodoende drinkbaar maak.

Zille het dié bewerings in haar Politicsweb-rubriek egter as onwaar afgemaak en aangevoer dat sy en haar gesin, sowel as personeellede by Leeuwenhof, alles in hul vermoë doen om water te bespaar.

“Ek en my man probeer só min water gebruik dat ek soms bekommerd is oor die higiëniese en estetiese gevolge.

“Ek stort een keer elke drie dae vinnig en die res van die tyd was ek uit ’n wasbak. Ek het gewoonlik my hare elke dag gewas, maar ek doen dit nou net as ek stort, met sigbare negatiewe gevolge. Ek meen egter olierige hare in ’n droogte is net so ’n groot statussimbool as ’n stowwerige motor.”

Zille het verder geskryf dat die storie eerder moet gaan oor hoe sy en haar gesin hul waterverbruik by Leewenhof getransformeer en verminder het en hoe water wat andersins vermors sou word, nou hergebruik word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!