Groot waterkrises in Vrystaat terwyl munisipaliteite swyg

Vrystaat dorpe se water is boomskraap

Weens die krisisafmetings van die waterskaarste op Kroonstad en omgewing het inwoners desperate pogings begin aanwend om dit onder die ANC-owerhede se aandag te bring.

‘n Beswaarskrif gaan glo in die parlement ter tafel gelê word om die minister van waterwese en sanitasie te vra om in te gryp oor die waterkrisis.

Die beswaarskrif is deur inwoners op Kroonstad, Viljoenskroon en Steynsrus onderteken. Die beswaarskrif kom te midde van die hewige munisipale verkiesingstryd waarvoor stemme gewerf word.

Vroeër is berig dat ‘n groot watervergadering deur die betrokke departement vir 14 Junie op Kroonstad gereël word.

Die plaaslike munisipaliteit swyg egter blykbaar oor die krisis en maak nie noodplanne aan die inwoners bekend nie.

Water word wel deur die munisipaliteit van verskillende damme, waarvan die watervlakke amper boomskraap is, gepomp in ‘n poging om water in die hande te kry.

Inligting oor die beskikbare water wissel afhangende van die oorsprong van die gegewens. Volgens inwoners kan dit twee tot tien dae wees en aldus die munisipaliteit is daar nog water vir twee weke beskikbaar.

Benewens die skaarste aan water, het die gehalte van die beskikbare munisipale water uit krane drasties agteruitgegaan.

Watertenks is orals op strategiese punte opgerig om inwoners van water te voorsien. Waterskenkings in die vorm van gebottelde water is tot dusver van verskeie plekke in die land ontvang.

Watervoorsiening lyk ook beroerd elders in die Vrystaat soos op Senekal, wat binnekort die derde keer in vier jaar sonder water sal wees. Inwoners sou oor die kwessie vergader het.

Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!