Grootbrak-moorde: Skokverslag in hof aangehoor

Die verhoor van die man wat in hegtenis geneem is in verband met die wrede moord op Tewie (72) en Eurika (62) Human in hul huis in Grootbrakrivier in die Wes-Kaap, het vandeesweek in die Mosselbaai-hooggeregshof begin. Die man wat daarvan verdink word dat hy ‘n egpaar van Groot-Brakrivier wreed vermoor het, pleit onskuldig op die aanklagte teen hom.

Die Human-egpaar is Dinsdagoggend 14 Junie 2016 in hul huis in Sandhoogtepad aangeval. Tewie se liggaam is Saterdag 19 Junie 2016 in die motorhuis aangetref en dié van Eurika in die egpaar se bed. Tewie is sewe keer met ʼn panga oor sy kop geslaan en Eurika is met ʼn selfgemaakte mes in die hart gesteek. Die polisie het van die begin af
vermoed dat iemand wat die egpaar geken het by hul moord betrokke was, omdat daar geen tekens van gedwonge toegang tot die huis was nie. Verskeie items is uit die huis gesteel.

Tamsamqa Howard Sishuba (26) is in Julie 2016 in verband met die dubbelmoord in hegtenis geneem nadat forensiese bewyse wat op die toneel gevind is hom glo met die moorde verbind het. Die polisie glo egter Lebohang Rethabile Lekoro is die ware meesterbrein agter die moorde. Lekoro is steeds op vrye voet nadat hy vermoedelik na ʼn buurland gevlug het. ʼn Beloning is vroeër vir sy inhegtenisneming uitgeloof.

Louise Karsten, joernalis vir die Mossel Bay Advertiser, die gemeenskapskoerant, het vandeesweek die hofverrigtinge bygewoon.

Karsten berig Sishuba staan tereg op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. Hy het in die hof die blaam op Lekoro, ʼn werker van die Humans, gepak.

Sishuba het aan regter Robert Henney gesê dat hy onder die indruk was dat hy die dag van die moord saam met Lekoro vir die Humans werk sou doen. Volgens Sishuba het Lekoro egter vir Tewie met ʼn panga aangeval. Sishuba beweer dat Lekoro hom gedwing het om ook vir Tewie een keer met die panga te slaan. ʼn Bedrag van R14 000 is op die dag van die moord vanuit die Humans se bankrekening na ʼn bankrekening in Lesotho oorgeplaas. Eurika het die egpaar se banksake hanteer.

Volgens ʼn patologieverslag deur dr. Christa Hattingh wat aan die hof voorgehou is, is Eurika vermoedelik dadelik dood nadat sy met ʼn skerp voorwerp in haar nek en hart gesteek is. Sy het ook ʼn verdedigingswond aan haar hand gehad. Tewie het waarskynlik dae ná die aanval nog geleef, maar was waarskynlik bewusteloos voordat hy dood is.

Aanvanklik is gereken dat Tewie ook die Dinsdag dood is.

Volgens Hattingh het Tewie minstens sewe kopwonde gehad. Drie van die wonde is met ʼn panga aan die regterkant toegedien en drie aan die linkerkant van sy kop. Daar was ook steekwonde aan sy bors wat vermoedelik met ʼn selfgemaakte mes toegedien is.

Tydens die nadoodse ondersoek het ʼn gedeelte van dié mes uit Tewie se klere geval.

Die Humans se twee honde, Jessica, ʼn Staffordshire-terriër, en Tiekie, ʼn Yorkshire-terriër, was in die egpaar se huis saam met Eurika se liggaam toegesluit en was vermoedelik vier dae sonder kos of water voordat hulle saam met hulle eienaars se liggame ontdek is.

Die saak is tot 15 September op die hofrol geplaas.


 

Enjoyed this post? Share it!