Gupta’s se ANN7 en New Age Maatskappy word vir R300 miljoen verkoop aan Jimmy Manyi

Die omstrede Gupta-familie het hul belange in ANN7 en New Age aan ’n maatskappy verkoop wat deur Mzwanele (Jimmy) Manyi besit word.

Die Guptas se Oakbay Investments sê in ’n verklaring Manyi se Lodidox het ANN7 (Infinity Media) vir R300 miljoen gekoop en The New Age (TNA Media) vir R150 miljoen.

Die ooreenkoms gaan na verwagting in die komende paar weke afgehandel word en is onderhewig aan die goedkeuring van die mededingingsowerhede, volgens Oakbay.

Wie is Manyi?
Manyi was ‘n voormalige woordvoerder van die Kabinet en president van die Progressive Professional’s Forum (PPF) wat onlangs gestig is.

Hy staan bekend as ‘n groot ondersteuner van pres. Jacob Zuma en is al as een van sy beeldpoetsers beskryf.
Die transaksie volg nadat die Indiese Bank of Baroda ook sy rug op die Guptas se maatskappye gedraai het nadat Suid-Afrika se voorste vier banke reeds in 2016 die groep se rekeninge gesluit het.

“Die transaksie is deel van Oakbay se verbintenis daartoe om poste te beskerm en sekerheid te bied aan 7 500 hardwerkende personeellede in die groep.

“Onder ’n nuwe meerderheidsaandeelhouer glo Oakbay albei ondernemings en hul werknemers sal die blink toekoms hê wat hulle verdien.”

Oakbay sê verder die transaksie sal hom as aandeelhouer tans die geleentheid gee om sy naam te suiwer van ongegronde aantygings deur die media.

“Ons is verheug om die ooreenkoms met Lodidox en sy bestuurspan te bereik. Die verkoop van ons aandeelhouding sal die toekoms van die onderneming beveilig en poste beskerm,” sê Ronica Ragavan, waarnemende uitvoerende hoof van Oakbay Investments.

“Albei ondernemings is inherent standvastig en goed geposisioneer om in hul onderskeie marksegmente te groei.”
Manyi sê ook hy is verheug oor die ooreenkoms wat met Oakbay gesluit is en hy sien uit daarna dat die transaksie suksesvol voltooi word.

“Dit is twee sterk ondernemings wat vol potensiaal is en onder die regte eksterne omstandighede al hoe belangriker kan raak en ’n tersaaklike deel van die Suid-Afrikaanse medialandskap kan vorm.”

Volgens hom het die aandeelhouers van Oakbay ingestem om finansiering teen aanvaarbare voorwaardes te verskaf om die transaksie te versnel.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!