Guptas veg om aandeel in groot koerantgroep

Guptas & newspaper

Die geskil gaan oor ’n ooreenkoms wat dr. Iqbal Survé, Independent se voorsitter, in 2012 met die Guptas aangegaan het toe ’n konsortium wat hy gelei het, onderhandel het om die koerantgroep te koop.

Survé het voorwaardelik ’n aandeel wat sou neerkom op 27,5% van die Independent-groep vir die Guptas aangebied.

Luidens die ooreenkoms sou die Guptas ook Independent se topbestuurders kon aanstel, het bronne aan amaBhungane gesê.

Die ooreenkoms is nooit voltrek nie en die Guptas en Survé is al die afgelope drie jaar in ’n geskil betrokke.

Dit sluit ’n uitgebreide, geheime arbitrasieproses in.

Die geveg het nou verskuif na die hooggeregshof in Pretoria waar Oakbay Investments, die Guptas se moedermaatskappy, vir Survé, ’n maatskappy in sy Sekunjalo-groep en ’n rekenmeester wat betrokke was by die arbitrasie, dagvaar.

Die Guptas, wat daarvan beskuldig is dat hulle hul verhouding met pres. Jacob Zuma misbruik, besit reeds The New Age-koerant en die televisiestasie ANN7.

Survé en sy Sekunjalo-groep het die swartbemagtigings-konsortium in 2012 gelei toe Independent vir R2 miljard by sy Ierse eienaars gekoop is.

Die transaksie is ondersteun deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) wat die afgelope week in die parlement gesê het hulle het R888 miljoen belê met die veronderstelling dat die nuwe, swart eienaars meer staatsadvertensies sou lok.

Maar volgens die OBK se aanbieding aan die LP’s: “Dié verhoogde besteding deur die regering is nog nie verwesenlik nie.”

Maatskappye wat bande met die Chinese regering het, het ook ’n 20%-aandeel in die koerantgroep gekry.

Die politieke aard van die transaksie het omstredenheid veroorsaak, maar dit was nie destyds bekend dat Survé vir die Guptas se Oakbay ’n voorwaardelike opsie gegee het om die helfte van die konsortium se 55%-aandeel in die mediagroep op te neem nie.

Watter waarde die Guptas sou toevoeg in ruil vir hul opsie, is onseker.

Adam Ismail, Survé se regsverteenwoordiger, het die dispuut bevestig: “ ’n Maatskappy in die Sekunjalo-groep is betrokke in ’n uitgerekte regsgeding met Oakbay Investments.”

Ismail sê die arbitrasie is “maar een hoofstuk in ’n regstryd wat nou al amper drie jaar voortduur”.

’n Aantal bronne het aan amaBhungane gesê Survé het die eerste ronde van arbitrasie verloor. Maar Ismail sê: “Survé en die Sekunjalo-groep glo vas Oakbay Investments het geen wetlike reg op enige aandele in die Independent Media Group nie. Aangesien die saak sub judice is in dié stadium, wil dr. Survé nie te veel sê nie.”

Ismail wou nie die hofstukke of verdere besonderhede deel nie.

By die hof het amaBhungane ’n saak van 2015 geïdentifiseer waarin Oakbay Investments ­“Firer, S” en drie ander dagvaar, maar die lêer kon nie opgespoor word nie.

Steven Firer, ’n rekenmeester by die ouditfirma Nkonki, het bevestig dit was hy, maar het gesê hy “kan nie inligting gee totdat die hofkwessies uitgepluis is nie”.

Verskeie bronne het saamgestem dat die ander verweerders Survé en die Sekunjalo-groep insluit. Firer se LinkedIn-profiel beskryf hom as ’n “deskundige getuie en konsultant in kommersiële geskille”.

Na verneem word, was hy betrokke by die Oakbay-Sekunjalo-arbitrasie deur te help om te bepaal wat die Guptas behoort te betaal vir hul aandeel indien dit verkry word.

Oakbay dagvaar vir Firer omdat hulle glo sy waardasie vir die aandeel is te hoog.

AmaBhungane se bronne sê die OBK, as ’n groot aandeelhouer, is nie ten gunste van die Guptas se pogings om ’n deel van Independent te bekom nie.

Sekgoela Sekgoela, woordvoerder van die OBK, wou nie kommentaar lewer nie.

In 2013 het Survé aan Bloomberg gesê die OBK “sal nie toelaat” dat die Guptas ’n aandeel in Independent bekom nie.

Ismail sê voorts: “Dr. Survé wil dit graag duidelik maak dat Oakbay en die Gupta-familie geen bystand hoegenaamd (geldelik of andersins) verskaf het vir die verkryging van Independent Media nie.

“Dr. Survé wil ook uitwys dat die Sekunjalo-groep geen sakebande met Oakbay of die Gupta-familie het nie.”

Yolanda Zondo, Oakbay-woordvoerder, sê hulle kan nie kommentaar lewer nie omdat dit ’n verbreking van ’n vertroulikheidsooreenkoms sal wees.

  • Die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek, ‘n onafhanklike nie-winsgewende organisasie, het dié berig verskaf. – Bron: Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!