Gyselaarsdrama speel af op plaas in Suid-Kaap

Die 39-jarige man wat sedert vroeg vanoggend op ‘n plaas in Brandwag eers in die plaashuis en toe later op polisie-, asook noodvoertuie wat op die toneel aangekom het gevuur het, is in hegtenis geneem. Dit volg nadat die polisie se taakmag hom kort na 18:00 in die plaashuis waar hy geskuil het, oorrompel het, het die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie sopas bevestig.

Die man se gesinslede wat saam met hom op die plaas was is ongedeerd na veiligheid geneem vroeer vandag, maar was volgens inligting tot en met die man se in hegtenisname op die toneel.

Volgens kapt Pojie sal die man tereg staan op verskeie aanklagte van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging nadat hy op polisielede, nooddienswerkers, asook hulle voertuie losgebrand het.

“Die man bly in aanhouding tot hy later vandeesweek voor die hof gebring kan word. Daar word tans deur die polisie ondersteuning gebied aan die familie en ook aan enige lede betrokke by vandag se gebeure om die trauma te help verwerk,” berig kapt Pojie.

Daar is geen beserings aangemeld nie.

Deur: Mosselbay Advertiser


 

Enjoyed this post? Share it!