Haai by Jeffreysbaai

Hoewel die geraas van ‘n helikopter wat passasiers op pretvlugte langs Jeffreysbaai se kuslyn neem, vir party inwoners ‘n steurnis is, was dit te danke aan die oplettende vlieënier dat daar vinnig opgetree kon word toe hy ‘n haai in die waters opgemerk het.
Meyburgh Theron, eienaar van Theron Aviations, het Sondag omstreeks 14:25 ’n bewegende “grys kruis” in die see opgemerk.
Volgens Theron se vrou, Yolanda, het die haai sowat 150 m van Dolfynstrand (die hoofstrand) geswem toe haar man tydens een van die pretvlugte die haai raakgesien het.
Die haai het blykbaar tussen die swemstrande van Supertubes en Kabeljous geswem.
Hulle het onmiddellik die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) van die haaigevaar in kennis gestel.
Rieghard Janse van Rensburg, Jeffreysbaai se NSRI-stasiebevelvoerder, het gister gesê hul bemanningslede het dadelik die see op bote ingevaar om swemmers en branderryers teen die haai te waarsku.
In Julie vanjaar was daar ook ‘n probleem toe ‘n haai gedurende die eindronde van die Jeffreysbaai-ope skielik agter ’n Australiese branderryer, Mick Fanning, verskyn het.
Hoewel die haai Fanning van sy branderplank gestamp het, het hy daarin geslaag om weg te swem en menseredders op waterponies het hom baie vinnig uit die water gehaal.
Janse van Rensburg het gesê eergister se haai was die eerste wat in hierdie feestyd langs dié gewilde branderry-kuslyn gesien is.
Die swart haaigevaarvlaggies is Sondagmiddag as voorsorgmaatreël op Kabeljous-strand (die rigting waarin die haai geswem het) gehys en die strand is gesluit. – Vryburger

Enjoyed this post? Share it!