Halfmiljoen se ivoor in Johannesburg gevind

Die polisie se honde-eenhede in Benoni en die Wes-Rand het Woensdag in samewerking met die departement van natuurbewaring op sowat ’n halfmiljoen rand se ivoor in Johannesburg beslag gelê.

Die wetstoepassingsagentskappe het omstreeks 12:00 ’n klopjag op ’n huis in Malvern, Johannesburg, uitgevoer nadat hulle inligting ontvang het.

Hulle het ’n 57-jarige Zimbabwiese burger in besit van ivoorprodukte en onverwerkte ivoor gevind en hom in hegtenis geneem.

Die verdagte is in polisieaanhouding by die Cleveland-polisiekantoor in Johannesburg.

Hy sal na verwagting binnekort in die hof op aanklagte van die onwettige besit van ivoor en die vervaardiging van ivoorprodukte verskyn.

Die polisie is besig om verdere leidrade op te volg, maar geen verdere inhegtenisnames is tot dusver gemaak nie. Die Valke sal na verwagting ook by die ondersoek betrek word.


Enjoyed this post? Share it!