Hare waai by Golden Oldies onder DA aktiviste na katgeveg uitbreek – wat ‘n sirkus!

DIE hare het Vrydagaand letterlik gewaai toe ’n golden oldies show vir DA-aktiviste handuit geruk en ’n katgeveg glo uitgebreek het.

Een van die aktiviste sit met ’n geswolle neus, ’n sny op een oogbank, ’n seer, gekneusde liggaam en ’n bles op die kop.

Dit volg nadat sy en haar verloofde blykbaar dié aand wreed deur twee vroue-aktiviste aangepak en sy onder meer met ’n drankbottel in die gesig geslaan is.

’n Stuk van haar hare is ook met pom-pom en al uit haar kop getrek en is Saterdagoggend opgetel in die jaart van die Chatty-gemeenskapsaal, waar die show gehou is.

Die couple verkies om hul name te weerhou omdat die einste aktiviste wat hulle aangerand het volgens hulle met bendes geaffilieer word.

Dié 23-jarige vrou sê ná die afloop van die show het sy by die kar gestaan toe haar verloofde een van die vermeende aanranders vir ’n light vra.

“Sy sê toe sommer vir my ek het haar vroeër uit die pad gestoot. Ek het vir haar gevra is sy reg wys, want ek het nog heeltyd by die kar gestaan, toe klap sy my.”

Dié vermeende slagoffer sê sy het teruggeklap en omgedraai om te loop toe sy ’n geweldige hou teen haar gesig voel.

“(Die ander aktivis) slaan my toe van agter af met ’n bottel Savannah in die gesig. Ek het gevoel my oog begin bloei en toe ek dit afvee, sien ek haar weghardloop.”

Sy sê sy het dié vrou agternagesit en toe sy haar kom kry, is sy bo op haar. Ná ’n ruk het ’n bondel mans aan haar begin slaan en ’n stuk van haar hare uit haar kop getrek, vertel sy.

“Hulle het my toe gesleep en my begin trap. My verloofde het bo op my gelê om my te beskerm toe slaan en grou hulle hom,” sê sy.

“(Dié vrou) het ook gesê sy gaan haar man kry om my vrek te skiet.”

Die ma van die vermeende slagoffer, wat ook ’n hoë posisie in dié party beklee, is baie omgekrap oor die voorval en sê dit spruit uit jaloesie.

“Om te dink een van hulle is ’n jeugleier.

“By die show het sy (die jeugleier) haar rok so hoog opgelig, ’n mens kon amper haar skaamte sien. Watter voorbeeld stel hulle nou aan die jeug deur so op te tree?”

Sy sê toe haar dogter ’n saak by die polisie wou aanmeld, het die polisie gesê hulle moet eers na die vermeende aanranders se huise gaan om te sien of hulle ook beseer is.

Haar dogter het toe geweier omdat dié jeugleier se swaer volgens hulle ’n berugte Baaise gangster is.

Werner Senekal, die DA-hoofsweep, sê hy het stories oor ’n geveg gehoor, maar kan dit nie bevestig nie aangesien hy dié aand 23:00 al huis toe is.

Rano Kayser, die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, sê hy het ná die funksie op ’n onderonsie by die hek afgekom.

“In my hoedanigheid as gemeenskapsleier het ek hulle uitmekaar gehaal en aangesê om huis toe te gaan.”

Kapt. Johan Rheeder, ’n polisiewoordvoerder, sê dis onaanvaarbaar dat die polisie nie die saak wou neem nie.

“Die klaer moet teruggaan na die polisiestasie en met die bevelvoerder praat. Haar saak moet geneem word.”


 

Enjoyed this post? Share it!