Heksejag deur SABC tref RSG

Joernaliste by RSG weier om polities plofbare stories te doen en omroepers huiwer om kritiese vrae oor die lug te vra uit vrees dat hul koppe soos dié van drie SABC-kollegas die afgelope week kan rol.

Onberispelike bronne in die Afrikaanse nuusredaksie sê:

  • Hulle is verbied om redakteurs en mediamense van buite die uitsaaier as kommentators oor interne SABC-aangeleenthede te gebruik en om negatiewe beriggewing oor pres. Jacob Zuma uit te saai, “want as president van die land verdien hy ’n sekere mate van respek”.
  • Daar word van personeel verwag om die “Rediffusions”-gesprekke van Hlaudi Motsoeneng, SABC-bedryfshoof, te luister wat op elke TV by die SABC se hoof- en streekkantore uitgesaai word.
  • Veranderings aan die SABC se redaksionele beleid twee weke gelede was ’n poging om sy lisensievoorwaardes oor billike nuusdekking “te omseil”.

Verskeie SABC-joernaliste het aan Rapport gesê ’n kultuur van intimidasie en viktimisering heers en dat joernaliste en aanbieders met ontslag gedreig word.

RSG het tot dusver genoeg onder Motsoeneng se radar gevlieg dat dié stasie met 1,7 miljoen luisteraars kon aanhou om kritiese stemme letterlik “lugtyd” te gee. Nou glo personeel daar is ’n “verklikker” wat hul uitsendings monitor en bestuur inlig indien enige van Motsoeneng se dekrete verontagsaam word.

Die verbod op sekere buitejoernaliste, presies tien jaar nadat ’n “swartlys” van kommentators onthul is by die SABC-radiostasie SAfm, het gekom nadat Tim du Plessis, hoof van aktualiteit by kykNET, ’n paar weke gelede kritiek oor Motsoeneng in ’n RSG-onderhoud uitgespreek het.

Motsoeneng het ’n vertaalde transkripsie van dié uitsending aangevra net voordat die verbod ingestel is, het twee SABC-bronne aan Rapport gesê.

Kritiek van binne word ook nie geduld nie. Foeta Krige, uitvoerende regisseur vanKommentaar en die nuusprogramme Monitor en Spektrum; die senior RSG-regisseur Suna Venter en Thandeka Gqubule, die SABC se sakeredakteur, is Donderdagmiddag geskors nadat hulle op ’n nuusvergadering kapsie gemaak het toe hulle verbied is om oor betogings van die Right to Know-veldtog teen SABC-sensuur te berig.

Motsoeneng self het drie weke gelede op ’n bosberaad aan die middelvlakbestuur die opdrag gegee dat geen negatiewe nuus oor Zuma uitgesaai mag word nie, het twee bronne in die SABC beweer. Hy het terselfdertyd aangedring dat negatiewe buitelandse nuus uitgesaai moet word “ter wille van balans”, sê die SABC-fluitjieblasers wat bereid was om op voorwaarde van anonimiteit met Rapport te praat.

Hy het vroeër beveel dat koerant­opskrifte nie op TV of radio gewys of gelees mag word nie en dat SAfm se nuuskommentaarprogram, The Editors, van die lug verdwyn.

Verlede Saterdag het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SABC, aan Rapport gesê RSG se nuusbesprekingsprogram, Kommentaar, gaan ook “uitgefaseer” word. RSG se redaksie het toe nog nie daarvan geweet nie.

Motsoeneng het dit dié week aan Rapport bevestig.

Volgens ’n SABC-regisseur leef joernaliste en omroepers by RSG nou “in angs en bewing”.

“Daar is ’n dreigende teenwoordigheid en gevoelens van vrees, hopeloosheid, woede en uitputting onder personeel,” het ’n joernalis op voorwaarde van anonimiteit gesê.

“Die vrees vir nog afdankings loop hoog,” sê ’n aanbieder. “Ons is eenvoudig te diep in hierdie ding.”

Sewe Afrikaanse joernaliste – insluitend die geskorstes – het geweier om vir hierdie berig met Rapport te praat.

Talle ander het nie die koerant se oproepe beantwoord nie.

’n Senior regisseur sê: “Die greep wat die SABC op ons het, is so kompleks, so deurspek met lojaliteit en vrees en verwarring en hoop.

“Ek het met my eie oë gesien hoe beeldmateriaal van die stadion wat leegloop tydens die president se toespraak op Jeugdag, uitgesny word. Alles in die naam van nasiebou.

“Maar die nasie brand. En 7 miljoen mense (wat geen nuus buiten die SABC s’n kry nie), meer as ’n kwart van die getal geregistreerdes vir die komende verkiesing, weet dit nie.”

Die jongste aanslag op die redaksionele vryheid van SABC-joernaliste het begin toe Motsoeneng ’n maand gelede die uitsaaier se kanale verbied het om beelde van gewelddadige betogings te wys. Die senior regisseur sê: “Die stories wat ons dek, het daarna handomkeer verander. Munisipale en politieke stories het stadigaan en stilweg begin afwesig raak en die fokus is op seremonies eerder as kwessies geplaas.

“Selfs ons eie mnr. Motsoeneng se doen en late was toe skielik hoofstories – Hlaudi wat ’n skool open, Hlaudi wat nuwe ateljees wil bou, Hlaudi vir wie sy eie koor ’n pryslied geskryf het.”

Anton Goosen, aanbieder van die RSG-musiekprogam Liedjieboer Rumoer, sê: “Die mense by RSG is bang en dit is afskuwelik. Hierdie is sensuur. Dit laat my sommer dink aan ’n man met die naam van Joseph Goebbels.”

Goebbels was Adolf Hitler se propagandaminister tussen 1933 en 1945.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit wat Krige en Venter verteenwoordig, sê hulle gaan die saak tot in die konstitusionele hof beveg.

“Die saak strek veel verder as ’n arbeidsaangeleentheid. Die SABC het onwettig opgetree en van sy werkgewers verwag om onregmatige en ongrondwetlike opdragte uit te voer.”

Rapport is in besit van ’n klankopname van die vergadering Maandag waarin Krige, Venter en Gqubule beswaar aangeteken het teen die bevel van ­Simon Tebele, waarnemende hoof van nuus en aktualiteit, dat hulle nie oor die R2K-betogings mag berig nie. Krige sê: “Ons gaan ons integriteit verloor.”

  • Drie mediawaghonde het die SABC Vrydag voor die Onafhanklike Uitsaaiowerheid gedaag omdat hy weens die verbod op die uitsending van gewelddadige protesoptogte nie sy uitsaailisensievoorwaardes nakom nie .

Die SABC het aangevoer hy doen dit om sy joernaliste en kinders teen geweld te beskerm en omdat sulke uitsendings geweld aanhits.

Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!