Herhaaldelike oproepe vir grondonteiening sonder vergoeding kan tot burgeroorlog lei

‘n Waarskuwing deur dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, aan die EFF dat hul herhaaldelike oproepe vir grondonteiening sonder vergoeding tot ’n burgeroorlog kan lei, het Dinsdag ’n beroering in die Nasionale Vergadering veroorsaak.

“As julle ’n burgeroorlog wil hê, doen dit,” het hy in ’n debat oor die versnelling van grondhervorming gesê.
Hy het in sy toespraak gesê grond gaan die hooftema in die 2019-verkiesing wees aangesien daar ’n kompetisie tussen die ANC en EFF is oor aan wie hulle die meeste beloftes oor grond kan maak.

“As enigiemand in Suid-Afrika dink dat hulle die grond kan onteien sonder vergoeding, leef hulle in ’n droom. Laat ek dit volmondig stel, as jy ’n burgeroorlog in Suid-Afrika wil begin, doen dit. Doen dit.”
Politieke partye het hom gekap.

Floyd Shivambu, onderleier van die EFF, het opgespring en gesê Groenewald kan nie met burgeroorlog dreig nie.
“Dit is onparlementêr om met burgeroorlog te dreig. Moenie dreig nie. Jy weet niks van oorlog af nie.”
Grace Boroto, raadsvoorsitter, het aan Groenewald gesê sy uitspraak is onparlementêr.

Groenewald het Shivambu aangeraai om mooi te luister. “Ek het gesê as julle daarmee voortgaan, sal dit . . . ”
Groenewald het ook vir die EFF gesê hulle moet nog leer oor oorlog wat hy reeds vergeet het.

Shivambu het beswaar gemaak dat Groenewald “weer met oorlog dreig”.
Boroto het gesê sy sal advies kry oor Groenewald se uitlatings.

Thomas Walters, DA-LP, het in sy spreekbeurt gesê hy hoop geen politieke party probeer stemme werf deur “populistiese oorlogspraatjies” nie. “Dit is goedkoop en onverantwoordelik.”

Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, het aan Groenewald, wat intussen die raadsaal verlaat het, gesê die grondkwessie is met reg ’n diep emosionele kwessie.

“Ek dink dit is iets wat wit Suid-Afrikaners, of jy verregs of rooi soos ek is, moet waardeer en verstaan.”
Sibusiso Mncwabe, NFP-LP, wat die debat aangevra het, het aan Groenewald gesê hy moet “wedergebore word”.

“Jy kan nie hierheen kom en sê ons vra vir ’n burgeroorlog nie. Ons voorvaders het vir die grond gesterf. As jy praat van burgeroorlog, is ons nie bang nie. Ons is gereed. Ons moet agbare lede daaraan herinner dat ons op en af in die gange van mag beweeg, maar (weens die feit) dat ons nog nie aandag gegee het aan die grondkwessie nie, huil die bloed en beendere van ons voorvaders steeds.”


Enjoyed this post? Share it!