Herman Toerien neem die nuusgebeure van 2014 in oënskou.

Was daar nuusgebeure in 2014 wat die jaar duidelik van ander jare onderskei? Dit was ’n jaar propvol nuusgebeure, sommiges uniek of eerstes soos die landing van ’n tuig op ’n komeet, en Maroela Media was daar om die nuus, agtergrond en nuusbesprekings aan sy lesers te bring.

Ons fokus vandag hoofsaaklik op van die belangrikste wêreldgebeure, maar omdat Suid-Afrika (nog steeds) deel van die wêreld is, word van die lyne na Suid-Afrika deurgetrek.

Hoe naby het die wêreld in 2014 aan ’n Derde Wêreldoorlog gekom, terwyl die Koue Oorlog heel duidelik weer in volle swang is?

Tot dusver vanjaar was daar geen enorme aardbewing en tsunami wat die wêreldgeskiedenis herskryf het nie, maar 2014 het wel vir Suid-Afrika die sterkste aardbewing opgelewer wat dit in dekades beleef het. Wêreldwyd kwalifiseer 2014 as ʼn relatief stil aardbewingjaar.

2014 was ’n swart jaar vir die lugvaart. Die twee grootste lugrampe van die jaar, beide van die Maleisiese lugdiens, is blykbaar deur menslike kwaadwilligheid veroorsaak. In Maart vanjaar het Malaysia Airlines se Vlug MH370 tydens ʼn vlug van Maleisië van Beijing verdwyn. ʼn Grootskaalse soektog is in die suidelike Atlantiese Oseaan van stapel gestuur, en die soektog duur nou meer geteiken voort. Nog geen spoor van die bemanning van 12, en 227 passasiers van 15 lande, kon nog gevind word nie.

Later dieselfde jaar is nog ’n Maleisiese vliegtuig, Vlug MH17 wat van Amsterdam na Maleisië onderweg was, klaarblyklik oor Oekraïne neergeskiet. Altesaam 298 mense het omgekom, die meerderheid Nederlanders. Hoewel die vingers na mekaar gewys word, lyk dit tot dusver uit die beskikbare inligting uit die formele ondersoek dat die neerskiet van die vliegtuig deur Russies-gesteunde rebelle in Oekraïne met ʼn BUK-missiel, wat die vliegtuig vir ʼn militêre vliegtuig aangesien het, die waarskynlikste is.

2014 sal ook as die jaar van die presidente onthou word. Pres. Jacob Zuma, wat heel duidelik grootliks uit die binnelandse openbare lewe onttrek is, klaarblyklik om verdere skade te voorkom, slaag egter steeds daarin om die aandag baie negatief op hom en Suid-Afrika te trek. In ’n klaarblyklike poging om sy statuur te verhoog, sorg sy beeldpoetsers dat hy dikwels oorsee is, en as ’n soort super diplomaat aangewend word. Hy slaag egter ook hier daarin om baie negatiewe reaksie te trek, soos die aankondiging (wat goed opgemors was) dat Suid-Afrika ʼn kernooreenkoms met Rusland gesluit het. Hoewel daar baie ontkennings en verduidelikings was, het die aankondiging (wat ook op die departement se webwerf aangebring was), gevolg ongemaklik kort na Zuma se omstrede besoek aan Rusland. Nkandla hang swaar soos ’n albatros om Zuma se nek, en word al swaarder al ontken die ANC dat daar hoegenaamd ’n albatros is. Die ganse Eskom het nie genoeg krag om Zuma se beeldbouaksie in positiewe vaarwaters te kry nie.

Twee jaar na hy oortuigend as die VSA se president herkies is, was pres. Barack Obama se beeld so aan skerwe dat Demokratiese kandidate tydens die Amerikaanse presidentsverkiesing bontgespring het om te keer dat Obama by hul mid-termyn-verkiesingsveldtogte betrokke sou raak. Dit het nie veel gehelp nie. Die Republikeine het die Senaat oorgeneem en beheer nou beide huise van die kongres. Obama is reeds op die spit oor ʼn beskouing dat hy sy uitvoerende magte oorskry en misbruik het. Op die oomblik lyk dit nie of Obama veel van ʼn les geleer het uit die miskenning van die kongres nie, en lyk dit of die Kongres in sy oorblywende twee jaar as president sake vir hom baie moeilik kan maak. Dit kan selfs Obama se aankondiging dat die VSA na meer as vyftig jaar van sanksies, sy betrekkinge met Kuba normaliseer, op die sinkplaatpad laat beland.

Ook pres. Wladimir Poetin van Rusland beleef ’n moeilike tyd. Terwyl hy binne Rusland nog in baie kringe op ’n golf ry, het sy buitelandse magstoertjies, veral ten opsigte van Oekraïne, sy land kniediep in ’n fiskale chaos laat beland. Die sanksies van Europa en die VSA teen Rusland knyp, maar Rusland se eintlike knou kom van die dalende internasionale olieprys. Rusland, ’n enorme olie-uitvoerder, het sy begroting opgestel met die veronderstelling dat die olieprys nie onder $95 per vat sou daal nie. Dit trek nou onder $60. Die roebel se waarde is in ’n vryval.

Daarteenoor is die Amerikaanse ekonomie nou aan die ontvangkant van goeie nuus. Die VSA se BNP het met die meeste in elf jaar gestyg.

Ontleders sal nog jare lank kopkrap oor hoe naby Poetin met sy Oekraïense ekskursie die wêreld aan ’n Derde Wêreldoorlog gebring het. Wat met Oekraïne gebeur, lyk na ’n voorloper wat Poetin in lande soos Estland, Letland en Litaue kan probeer, wat reeds volledig by die Europese Unie en/of Navo ingeskakel is.

Die radikale Moslem-oranisasie, die IS, het skynbaar die aflosstokkie van internasionale terreur by Al Kaïda oorgeneem. Die Weste het eers behoorlik van die opmars van die IS kennis geneem toe dit reeds groot dele van Sirië en Irak beset het, en formeel ’n kalifaat oor die “Islamitiese Staat” uitgeroep het. Die stroom gruverhale uit hierdie oord bereik steeds die Weste – soms nuwe terreurdade, soms oues wanneer massagrafte ontdek word in gebiede wat by die IS afgeneem is. Die IS was aanvanklik ʼn filiaal van Al Kaïda maar is uitgeskop omdat dit te erg is.

Tog ruk duisende jong Moslems uit die weste as Jihad-gangers na Sirië en Irak op om ’n soort “diensplig” vir die IS te gaan verrig.

Nie dat Al Kaïda agteroor sit nie. Al Shabaab, ’n Al Kaïda-filiaal van Somalië, voer steeds skokkende dade van terreur, veral in Kenia uit. In Nigerië gaan die Boko Haram, uit dieselfde dampkring, van skokkend erg tot nog skokkender.

Suid-Afrika het twee keer kort na mekaar slagoffers aan internasionale terreur afgestaan. Drie lede van die Groenewald-gesin is in ’n Taliban-aanval op Kaboel, hoofstad van Afghanistan, aangeval en vermoor – klaarblyklik omdat die gesin van sendingwerk verdink is.

In Jemen het die Suid-Afrikaanse gyselaar, Pierre Korkie, sy lewe verloor. Hy is klaarblyklik deur sy Al Kaïda-ontvoerders vermoor toe ’n Amerikaanse taakspan ’n Amerikaanse gyselaar wou bevry.

Intussen het Suid-Afrika wat sy buitelandse beleid betref, sy gewig vierkantig agter “Palestina” ingewerp. Hoewel daar oral in die wêreld druk op Israel uitgeoefen word om tot ’n tweestaat-oplossing te kom, is daar veral twee netelige kwessies wat pla. Israel meen die oplossing moet in onderhandelinge met die Palestynse owerheid gevind word, maar die Palestynse owerheid het ’n “eenheidsregering” met Hamas gesluit. Israel praat nie met Hamas nie, wat sy bestaan nie erken nie. Terwyl die ander lande wat druk op Israel uitoefen, hierdie feit in berekening hou, het Suid-Afrika klaarblyklik geen probleem met Hamas nie. In vanjaar se Gaza-oorlog is die blaam vierkantig op Israel geplaas en het Hamas se provokasie en eerste aanvalle skynbaar geen negatiewe gewig gedra nie.

Suid-Afrika verkies skynbaar steeds om in saakmakende gevalle in die internasionale arena onkant te speel. Suid-Afrika het byvoorbeeld in ʼn VN-komitee teen ’n veroordeling van die IS gestem, en in ’n veroordeling van Noord-Korea heftig beswaar gemaak en toe buite stemming gebly.

Ook die verskerpte rasgevoelens in Suid-Afrika staan klaarblyklik nie in isolasie nie. In Nederland (en ’n mate in België) het die gebruik van Zwarte Piet onder skoot gekom, en in die VSA het veral twee grootjurie-uitsprake om blanke polisiemanne nie te vervolg nie, na swart verdagtes die lewe gelaat het, skynbaar ’n sweer laat oopbars.

steve-hofmeyr-jacob-zuma-leon-schuster-dekat-320x213 Jacob-Zuma-digitlab-320x240

Die soeklig verskuif dan meer na Suid-Afrika.

Op twee heel uiteenlopende maniere het twee persone in 2014 ʼn groot invloed op die psige van die Afrikaner en ander minderhede gehad – pres. Jacob Zuma en Steve Hofmeyr.
Oor Zuma is daar binne hierdie geledere min of meer konsensus: Die land kan hom nie bekostig nie. Hy is skadelik vir die land, en ’n yslike verleentheid wat die land onder meer in terme van internasionale beeld en beleggings enorme skade berokken.
Oor Steve is menings erg uiteenlopend, maar die feit is dat in die stadium wat “Steve se twiet” die omstredenheid verdiep het, het hy reeds, onder meer deur die sing van Die Stem by die Inniebosfees, ’n impak op die breë Afrikaner-psige gemaak juis toe die Zuma-faktor baie Afrikaners en ander minderhede soos vreemdelinge in hul eie land laat voel het.
Zuma se negatiewe impak is kort voor die einde van die jaar juis baie verdiep toe hy eers die Eskom-krisis voor die deur van oorle apartheid probeer lê het, en daarna in sy jaaropsomming ’n rooskleurige prentjie probeer skets het oor wat die ANC die afgelope 20 jaar vermag het. In hierdie grootliks werklikheidsvreemde verbeeldingsvlug het hy onder meer daarop aanspraak gemaak dat regeringsverantwoordbaarheid verdiep is.
Nie dat die EFF en ander opposisiepartye iets daarvan bemerk het nie. Inteendeel, Baleka Mbete, die ANC se voorsitter, is heel teen demokratiese konvensie in, as speaker ontplooi, skynbaar met die uitsluitlike doel om die president se verantwoordbaarheid aan die parlement nek om te draai.
Heel teen die einde van die jaar sou die ontplooiing van Zuma-lojaliste steeds opslae maak, onder meer in die Inkomstediens en oplaas die verwydering van Anwa Dramat as hoof van die Valke – met Zuma-lojaliste wat skynbaar reeds toustaan om as nuwe hoof van die Valke aangestel te word. Soos selde demonstreer dit presies hoe groot die gevaar van die ongrondwetlike beleid van kaderontplooiing kan ontaard.
Die verbasende is dat toe baie waarnemers reeds taamlik seker was dat Zuma na die ANC se agteruitboerdery in die 2014-verkiesing die een of ander sanksie sou beleef, die ANC juis in ’n SAKP-geleide strategie die geledere om Zuma gesluit het. In dié stadium is dit duidelik dat die strategie aanvanklik behels het dat Zuma grootliks aan die plaaslike politieke toneel onttrek sou word, en dat aan sy statuur getimmer sou word voor hy geleidelik weer meer en meer op die kiesers losgelaat sou word. ’n Deel van die statuurbouery was ’n rits internasionale reise (sommiges, soos die reis van Rusland weer omstrede), en hier en daar seremoniële optredes soos die opening van fabrieke waar hy streng by toesprake gebly het wat vir hom geskryf is. Binne sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, het hy ’n bietjie meer bewegings- en spraakvryheid geniet.
Dié strategie het ernstige skade opgedoen toe die EFF hom in die parlement getakel het – ʼn plek waar die president sy lyf bitter skaars gehou het, veral wanneer hy vrae moes beantwoord. Sy Eskom-juweeltjie en sy “jaaroorsig” het verder verseker dat die beeldbou-strategie skouspelagtig misluk het. Sy gefrustreerde lojaliste het oplaas gedreig dat die media wat so lelik maak, staatsadvertensies gaan ontbeer, en daardeur persvryheid en demokrasie ’n verdere taai klap toegedien.
Die Steve-fenomeen het nie in isolasie plaasgevind nie. Die jaarlikse Versoeningsbarometer het ook aangedui dat die meeste Suid-Afrikaners nou, na 20 jaar, hulself nie as Suid-Afrikaners eerste uitdruk nie, maar in terme van hul ras. Hiervoor kan maar net die ANC se rasbeheptheid en ’n wavrag rasgebaseerde wetgewing en ander maatreëls die blaam kry.
Die sing van Die Stem het minstens ’n gewaarwording losgelaat: die proses van ’n mate van behoudendheid na ’n links-liberale samelewing is nie ’n onafwendbare reguit lyn nie. Om te beweer dat ontsteltenis en selfs net omsigtigheid oor Steve se optrede net tot links-liberale kringe beperk is, sou ’n oorvereenvoudiging van die saak wees. Hierdie reaksie sou verdiep met die omstrede twiet.
Die links-liberale reaksie sou egter dikwels heeltemal inkonsekwent en ironies, onliberaal wees. ’n Goeie voorbeeld is die rubriek van Beeld se redakteur, Adriaan Basson, op 27 Desember, 2014 A(frikaans) tot Z(uma). Onder sy nuusmakers van die jaar lys hy Zuma en Hofmeyr as die maaifoedies van die jaar. Oor Steve skryf hy: “Hou aan skryf en sing, maar hou jou uit die politiek, pampoen!”
’n Werklike kunstenaar tree ook as die gewete van ’n volk op. Tydens die apartheidsjare het die digters, soos die sestigers, hul monde erg oor apartheid uitgespoel en hierdie optrede is as integrale deel van die werklike kunste aangeprys. Enkele van hierdie digters, waaronder Breyten Breytenbach en wyle Barend J. Toerien sou na die 1994-oorgang konsekwent bly en ook onaanvaarbare optredes deur die nuwe bewindhebbers kritiseer.
Steve, as kunstenaar en as landsburger, het dieselfde (grondwetlike) reg en kunstenaarsplig. Steve is buitengewoon begaafd, soos blyk uit sy bydrae aan Die Groot Debat waarin hy dr. Piet Croucamp intellektueel en akademies punt vir punt beantwoord. Croukamp kry ruim ruimte as rubriekskrywer in Beeld (terwyl bydraes uit ander ideologiese dampkringe dikwels nie gepubliseer word nie).
Dit beteken nie dat Steve nie foute maak en gemaak het nie. Die regte benadering in ’n demokrasie is egter nie om iemand die swye op te lê waar selfs Julius Malema en die SAKP, Numsa se Irvin Jim en talle ander vryelik skadelike uitsprake kan maak nie.

898592_750269 1610825_758790524189884_7975579022358718238_n whitecross

Herman Toerien. Maroelamedia

Enjoyed this post? Share it!