Herrie in Pta: Sputla wil Solly by OB verkla

’n Voormalige burgemeester van Tshwane gaan die DA-burgemeester en sy administrasie by die openbare beskermer (OB) van onder meer “growwe wanbestuur” verkla.

Kgosientso “Sputla” Ramokgopa, voormalige burgemeester van Tshwane en voorsitter van die ANC in die groter Tshwane-streek, het Woensdag vir die eerste keer sy stilte verbreek sedert Solly Msimanga in Augustus verlede jaar die stuur van sake in die hoofstad by hom oorgeneem het.

Ramokgopa het benadruk dat hy die hoofstad nie met ’n skuldlas van meer as R2 miljard verlaat het nie. Hy beskuldig Msimanga daarvan dat hy die stad in die grond in bestuur.

“Ek het Tshwane met ’n surplus van R640 miljoen nagelaat. Al is raadslid Msimanga se regering in beheer van alle funksies van die plaaslike regering en begroting, het hy steeds die vermetelheid om die ANC vir swak bestuur te blameer,” sê Ramokgopa.

“Deursigtigheid en finansiële omsigtigheid is nou deur onreëlmatige aktiwiteite in die stad se finansiële departement vervang. Solly Msimanga, Mare-Lise Fourie, burgemeesterskomiteelid vir finansies, en Moeketsi Mosola, munisipale bestuurder, is kop in een mus om die laaste wat oor is in die leë koffers te herwin.”

Ramokgopa en die ANC in Tshwane gaan Msimanga en sy administrasie voor Kersfees by die OB van growwe finansiële wanbestuur, wanadministrasie en die totale veronagsaming van grondwetlike en regsvoorskrifte verkla.

Fourie het Donderdag teen Ramokgopa uitgevaar.

Volgens haar is Ramokgopa se verklarings ongegrond en in sommige opsigte “moedswillige wanvoorstelling van die feite.

“Pleks dat hy die mediakonferensie gebruik het om verantwoordelikheid vir sy administrasie te aanvaar, het hy verkies om die waarheid te verdraai en het hy sodoende alle geloofwaardigheid verloor.

“Ironies genoeg is dit die voormalige ANC-administrasie wat deur growwe wanbestuur en finansiële wanadministrasie gekenmerk is.”

Fourie sê dis ’n leuen dat die DA-administrasie die stad in die grond in bestuur het.

“Dit is inderdaad die vorige administrasie wat die stad in finansiële chaos gelaat het. Valse aansprake dat hulle die stad met ’n surplus van R640 miljoen gelaat het, is ’n swak poging om hulle van enige verantwoordelikheid te onthef.”

Volgens haar illustreer die oudburgemeester se uitlating dat hy nie weet hoe om sy eie finansiële state te lees nie.

“Ons verwelkom Ramokgopa se dreigement dat die ANC in Tshwane die OB gaan nader. Dit sal dan alle besonderhede openbaar van die gemors wat hulle geskep het.”

Foto:Paul Mashatile, LUR en ANC-voorsitter in Gauteng, en Kgosientso Ramokgopa, voorsitter van die ANC in die groter Tshwane-streek en oudburgemeester van Tshwane.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!