Herrie los oor kospakkies’ wat bestem is vir Knysna slaggoffers – DA plaas hul plakkers daar op

‘n Herrie het losgebars omdat DA-vrywilligers na bewering plakkers van die party op kospakkies en -items geplak het wat aan brandslagoffers in Knysna versprei is.

Die DA het dit Dinsdagmiddag ten sterkste ontken. Sammy Claassen, ANC-woordvoerder in die Weskusstreek, het gesê dit is onder hulle aandag gebring. Die West Coast Racing Club het vroeër bydraes ingesamel van mense hoofsaaklik in die omgewing van Vredenburg en Saldanha.

Dit is toe deur ’n karweier namens die klub na Knysna geneem. Daar het vrywilligers die kospakkies versprei.

Toe die vrywilligers die pakkies versprei, het hulle afgekom op kospakkies met DA-plakkers op.

Die vrywilligers het dit onder die ANC se aandag gebring omdat hulle wou weet wat aan die gang is.

Volgens Claassen veroordeel die ANC dit ten sterkste. “Dit dryf teen die bestuursbeginsels van rampbestuur in. Dit is onmenslik om mense se noodsituasie uit te buit vir politieke doeleindes.”

Jaco Londt, voorsitter van die DA se Oosstreek, het gesê dit is nie waar nie. “Dit is politieke opportunisme van die ANC om ’n vals storie te versprei. Die ANC behoort ’n klag in te dien as hulle so ernstig daaroor voel. Die DA fokus nou om die mense van Knysna en omliggende gebiede te help. Ons rig ’n vriendelike uitnodiging aan die ANC om deel daarvan te wees.”

Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!