Het jy ‘n droom .. op die plek word drome waar !!!!

Kleinvallei, geleë op ‘n lappie grond buite Krugersdorp, waar 60 mense woon en leer hoe om selfversorgend te wees, het ‘n heerlike kuierplek vir die gemeenskap geword. Naweke beman inwoners ‘n padstal waarin produkte soos handwerk, gebottelde blatjang, rissiesous, konfyt, kralewerk, kleipotte en vele meer verkoop word. Daarmee saam bedien hulle eet- en drinkgoed. So tussen die gewerskaf is daar altyd ‘n besoeker wat nie haastig is nie en meer wil uitvind oor dié plakkerslewe van Kleinvallei. Gou is daar ‘n groep wat heerlik in die wintersonnetjie saam kuier, resepte uitruil en sommer net sit en gesels.

Sunette Bridges, dogter van Bles Bridges, Suid-Afrika se bekende minnesanger uit die jare 80, wat desondanks al die klappe en beledigings op sosiale media voortgaan met die Kleinvallei-projek, is nie bang om oor die wel en wee van dié unieke nedersetting te praat nie. Ongesiens, onopgesmuk, geklee in ‘n jean, t-hemp en tekkies, sluit sy by die geselskap aan. ‘n Klein blonde dogtertjie kom skaam aangeloop. Sy buk en vra hoe dit gaan, nog kinders kom nader en gou is dit ‘n heen-en-weer geselsery.

“Ek het nog altyd ‘n sagte plek vir armes en verstote mense gehad. My pa ook. Ek glo dat hy my ten volle sou ondersteun het. Hy sou selfs kom help stene lê om vir die mense van Kleinvallei huise te bou,” sê sy tewyl haar stem breek wanneer sy terugdink aan haar pa vir wie sy so oneindig lief was. Ek kan nie my rug op die arm mense van Suid-Afrika draai nie. Ek kan ook nie almal help nie, maar ek kan ‘n honderd mense help. Ek kan help dat hulle landsburgers word met selftrots en menswaardigheid. Ek kan help dat hulle weer drome droom, hul kleinkinders sien uitblink ….

“Dit is Suid-Afrikaners wat gesorg het dat ek geen tekort as kind gehad het nie. Hulle het ver gereis om optredes van my pa by te woon. Baie van hierdie mense woon vandag in plakkerskampe, hulle kry swaar, daar is nie kos nie. Ek wil hulle nie so sien lewe nie. Dit kan nie alles hul skuld wees nie. Waar ek in Peacehaven in Vanderbijlpark grootgeword het, het al die fabrieke toegemaak, dis stowwerig en vervalle. Die mense is lewensmoeg, baie het vir my pa gewerk. Ek skuld hulle ‘n beter toekoms,” sê Sunette.

Uit haar entoesiasme is dit duidelik dat sy nie net droom en lippetaal verkondig nie. Sy staan in die oggend op met groot planne. Een daarvan is om Kleinvallei vanaf 7 tot 10 Augustus in ‘n musiekfees-terrein te omskep. Kleinvallei sal dan die gasheer vir die bekende Afrisaam-musiekfees wees. Groot name soos Jay, Steve Hofmeyr, Arno Jordaan en Gerhard Steyn sal by die fees optree. Vir die Country aanhangers is daar ‘n Country Legends-fees. Intussen word daar ernstig gewerskaf om die feesterrein voor te berei om plek te maak vir die duisende mense wat na verwagting die musiekfees gaan bywoon, sê Sunette.

“Kleinvallei was nie een van my drome nie. Ek het aangebied om met die projek te help en na ‘n paar maande het dit my verantwoordelikheid geword. Emosioneel en finansieël. Tans bly inwoners in weermagtente. Hulle het krag, ‘n gemeenskaplike kombuis en mobiele ablusiegeriewe. Hulle kry drie etes per dag en daar word in alle basiese behoeftes voorsien. Dit is belangrik dat Kleinvalleiers nie bedel nie. As hulle iets nodig het, vra hulle.

“Ons is besig om Kleinvallei selfversorgend te maak. Inwoners woon kursusse by, hulle leer ambagte en is entoesiasties genoeg om produkte te maak wat weer verkoop word. ‘n Hele paar het ook weer werk in die openbare sektor,” sê sy.

Baie van die inwoners het aanvanklik in Kroningspark in die woonwapark gewoon. Hulle is aan die einde van verlede jaar gedwing om ‘n ander heenkome te soek. Baie het besluit om hulle op Kleinvallei te vestig. Alhoewel die projek nog in sy kinderskoene staan, word baie beplan. ‘n Houtwerksentrum, sentrum vir bejaardes, ʼn jeugtuiste, ʼn tuiste vir middeljariges, twaaalf baksteenhuise, werkswinkels, opleidingsentrums en meer.

“Die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is besig om vinnig te styg en die regering kan nie vir almal sorg nie. Elke gemeenskap het ‘n Kleinvallei nodig. Daar waar die armes geborge voel, waar hulle kan leer en werk. Dit is so verblywend om te sien hoe die mense van Kleinvallei ontwikkel. Die kinders wat weer skool toe gaan en akademies presteer, ouers wat weer trots is op dit wat hulle doen en wat hul kinders doen. ‘n Ouma en oupa wat nie kan ophou vertel van hul kleinkinders se prestasies nie. Die mense lag weer, die kinders se gesiggies straal, hulle lewe weer soos ‘gewone mense’.

“Natuurlik is alles nie maanskyn en rose nie, maar in elke gemeenskap is daar uitdagings. Ons pak dit aan en droom saam met hulle.

Mense wat die musiekfees wil bywoon, kan gerus vir Amanda de Lange skakel by 071 604 9498.


Enjoyed this post? Share it!