Hier kom nog drama – Minister van maatskaplike ontwikkeling gee nie om vir miljoene Suid-Afrikaners wat van maatskaplike toelae afhanklik is

DIT is duidelik dat Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, en die South African Social Security Agency (Sassa) nie veel omgee vir die miljoene Suid-Afrikaners wat van maatskaplike toelae afhanklik is nie.

Vroeër dié week moes Dlamini en verteenwoordigers van Sassa voor die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling in die parlement verskyn. Hulle sou verslag doen oor die migrasie na ’n nuwe organisasie om maatskap­like toelaes uit te betaal.

Die nuwe vennootskap moet teen 31 Maart in werking tree. Nie Dlamini of Sassa se verteenwoordigers het egter opgedaag nie. Dlamini het verskoning aangeteken omdat sy ’n kabinetsvergadering moes bywoon, maar Sassa het bloot weggebly. Die herrie met die uitbetalings van die maatskaplike toelae einde April is nog vars in die geheue van Suid-Afrikaners.

As die minister en Sassa só nonchalant kan wees oor belangrike vergaderings, lê daar weer slapelose nagte voor vir miljoene ontvangers van maatskaplike toelae, want soos dit tans lyk, is Sassa goed op pad om sy spertyd te mis.

Die konstitusionele hof het in 2014 al bevind dat die kontrak wat die regering met Cash Paymaster Services (CPS) vir die uitbetaling van die toelaes aangegaan het, onwettig en ongeldig was. In Mei het dieselfde hof egter Sassa en CPS beveel om voort te gaan met die uitbetalings omdat ’n nuwe diensverskaffer toe nog nie aangestel is nie.

Sassa het gesê hy wil oor vyf jaar self die uitbetalings behartig, maar hierdie is blote wensdenkery as die huidige onbeholpenheid as maatstaf gebruik word.

Dlamini het haar nou al herhaaldelik bewys as hopeloos ondoeltreffend. Hoe sy al pres. Jacob Zuma se kabinetskommelinge oorleef, gaan die verstand te bowe. Sy moet nou waai!


Enjoyed this post? Share it!