Hlaudi appelleer teen arbeidshofuitspraak

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Juran van den Heever

Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK (SABC), het appèl aangeteken teen ʼn onlangse uitspraak in die arbeidshof.

Die hof het vroeër vandeesmaand beslis Motsoeneng is aanspreeklik vir die kostes van die SAUK (SABC) 8-saak.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke is dit duidelik dat Motsoeneng besig is om die onvermydelike te vertraag. “Wat hy egter gou sal besef is dat hy ons nie moeg kan litigeer nie, en dat hy uiteindelik verantwoording sal moet doen vir die skade wat hy aan so baie mense berokken het. Ons sien uit om hom in die appèlhof teen te staan,” het Van der Bijl gesê.

Die arbeidshof in Johannesburg het op 8 September beslis dat Motsoeneng, die SAUK (SABC) en Simon Tebele, die voormalige waarnemende hoof van nuus by die SAUK (SABC), aanspreeklik gehou moet word vir die onregmatige afdanking van die SAUK (SABC) 8 verlede jaar. Die uitspraak beteken dat Motsoeneng, Tebele en die openbare uitsaaier elk ʼn gedeelte van die regskoste moet betaal.

Die kostebevel-aansoek het gekom nadat die SAUK (SABC) 8 suksesvol was in hul hofaansoek om hul afdanking deur die openbare uitsaaier teen te staan. Die agt persone is afgedank nadat hulle Motsoeneng se opdrag teëgegaan het dat geen gewelddadige betogings op die uitsaaier se platforms uitgesaai mag word nie.

Lees alle vorige berigte oor Hlaudi Motsoeneng op Maroela Media.

Enjoyed this post? Share it!