Hlaudi se Diktatorskap by SABC in volle swang

Foeta uit SABC geneem, mag nie met kollegas praat

Foeta Krige is glo deur ’n mensehulpbronbestuurder van die SABC uit die uitsaaier se gebou vergesel, hy moes sy toegangskaart oorhandig en belowe om met geen van sy kollegas kontak te hê nie.

Krige, uitvoerende regisseur van die nuusprogramme Monitor en Spektrum op RSG, is Donderdag saam met die senior regisseur, Suna Venter, en Thandeka Gqubule, die SABC se sakeredakteur, geskors.

Dit kom nadat hulle Maandag op ’n nasionale nuusvergadering beswaar aangeteken het teen ’n bevel van Simon Tebele, waarnemende hoof van nuus en aktualiteit by die SABC, om nie oor betogings later die dag deur die drukgroep Right2Know (R2K) by die SABC te berig nie.

R2K het betoog teen ’n besluit van Hlaudi Motsoeneng, die SABC se bedryfshoof, om nie beeldmateriaal van gewelddadige betogings uit te saai nie.

Die amptelike rede vir Krige, Venter en Gqubule se skorsing is dat hulle hulself nie neerlê by Motsoeneng se besluit nie en hulle daarvan distansieer.

Dit kan glo ’n negatiewe impak op die uitsaaier se werksaamhede hê.

Gqubule het op die nuusvergadering gesê sy stem nie met Tebele se opdrag saam nie en wou dit op rekord plaas indien daar gevolge sou wees as die SABC nie die betogings dek nie. Krige en Venter het haar gesteun.

’n Debat het ontstaan oor die geldigheid van Tebele se opdrag, veral in die lig van ’n vroeëre bevel dat koerantopskrifte nie meer op die lug gelees gaan word nie. Daar is geargumenteer daardie bevel kan moontlik op grond van kommersiële oorwegings geldig wees, maar die redes waarom die R2K-betoging nie gedek mag word nie, is nie redaksioneel suiwer nie.

Die drie geskorste joernaliste was die enigstes onder die groep uitvoerende regisseurs en redakteurs wat Tebele se besluit bevraagteken het.

Dit is glo weens ’n kultuur van vrees en afpersing wat by die uitsaaier heers.

“Mense word met die beëindiging van hul werk en loopbaan gedreig. En dis mense met kinders, karre en huise,” het ’n ingeligte gesê.

Nie Krige of Magdaleen Kruger, RSG se stasiebestuurder, wou kommentaar lewer nie en het Netwerk24 na Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SABC, verwys.

Hy is per e-pos en oor die telefoon om kommentaar gevra, maar het nie gereageer nie. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Venter en Gqubule is nie om kommentaar gevra nie. Al drie word ingevolge SABC-beleid verhinder om met die media te praat. /3

Krige slaan sedert die naweek vure dood ná berigte dat die gewilde ontledingsprogramKommentaar op RSG in Motsoeneng se visier is.

Hy het vroeër vandeesweek ’n regsmening ingewin oor sy posisie by die SABC.

Motsoeneng en Jimi Matthews, waarnemende groephoof, het Krige ook vroeër berispe nadat Monitor ’n insetsel uitgesaai het waarin Motsoeneng se besluit om nie gewelddadige betogings uit te saai nie, deur die joernalis Tim du Plessis en Franz Krüger van Wits se skool vir joernalistiek, bespreek is.

Krige en sy senior kollegas is ook in die verlede opdrag gegee om nie oor die EFF verslag te doen nie.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!