Hoe kan ons nog veiligheid koop in Suid-Afrika?

Veel meer as net ’n vrees vir misdaad word losgelaat wanneer ’n burger van “veilige Suid-Afrika” aan die “onveilige Suid-Afrika” blootgestel en aangeval word. Hoewel dit twee uiteenlopende wêrelde is, is dit een land en is oor en weer blootstelling aan misdaad onafwendbaar.

Luukse, en selfs effe minder luukse toerbusse het gewild begin word onder Suid-Afrikaners, en talle maatskappye het bekende name geword in dié bedryf. Benewens relatiewe gemak, speel veiligheid ook ’n rol. Onlangs is berig dat ’n toerbus met Nederlandse toeriste beroof is. Van die passasiers het laat blyk dat al manier om veilig deur die land te toer is om die reis in ’n tenk aan te pak. Maroela het met ’n nuuskommentaar, Suid-Afrika vanuit ’n pantservoertuig bekyk, gereageer.

Nou kom die nuus dat ’n Greyhound-bus by Welkom deur betogers stormgeloop is, met klippe bestook is, passasiers aangerand en beroof is, en die bus aan die brand gesteek is. Die bus en sleepwa het uitgebrand.

Terselfdertyd is gesoek na ’n motoris wat vanuit sy motor op ’n groep skynbaar bedreigende betogers geskiet het, en in die proses ’n 15-jarige seun doodgeskiet het. Die man het hom intussen aan die polisie oorgegee.

Dit is nie altyd so maklik om die “twee Suid-Afrika’s” se inwoners waterdig te skei nie. In die een word mense op straat doodgeskiet, is daar gereeld proteste, en is lewens skynbaar min werd. In die ander Suid-Afrika woon mense in woonhuise wat in forte omskep is.

Maar die “veilige” Suid-Afrika is tog blootgestel aan die aaklige werklikhede, soos rotsblokke wat tydens proteste op motors op “veilige” snelweë daaronder gegooi word.

Die politieke sentiment maak doeltreffende optrede baie moeilik. Met die onluste tydens die vorige bedeling is voertuie met noodsaaklikhede soos brood, medisyne en melk dikwels in konvooie deur gepantserde Casspirs begelei. Soms moes daar vanuit die Casspirs sarsies afgevuur word om die konvooie te kon beveilig, en gou het die “spreekwoord” geloop: “Casspir is no longer a friendly ghost.”

Dan was daar die sogenaamde “Trojaanse perd”-voorval toe polisielede hulle in ’n afleweringsvoertuig wat amper gewaarborg was om aangeval te word, versteek het. Die polisielede het toe ook die aanval afgeweer, maar die vet was in die vuur oor die “lokval”-benadering.

Die huidige minister van polisie, Fikile Mbalula, wat bekend is daarvoor dat die wag voor sy mond gereeld op dros is, word erg verkwalik oor sy bekpraatjies oor hoe misdadigers vasgevat gaan word. Sou ’n polisieman werklik in ooreenstemming met sy minister se praatjies optree, is hy egter heel waarskynlik kniediep in die sop.

Jare gelede het ’n kluisenaarboer buite Parys sy huis behoorlik in ’n fort omskep, om dit vir aanvallers onmoontlik te maak om by hom uit te kom. Toe word gewag tot hy uit sy huis kom, en hy word buite doodgeslaan. Talle plaasaanvalle het ook al buite die veiligheidstrukture plaasgevind, en inwoners is byvoorbeeld ingewag wanneer hulle van die kerk af kom.

Met die Coligny-wanorde is skade aan huise in die voormalige “wit” dele van die dorp aangerig. Fopnuus oor swart mense wat iewers in Noordwes opruk bly gewilde onderwerpe, met WhatsApp-boodskappe wat die wêreld vol gestuur word.

Dele van Suid-Afrika moet nou eers opstaan uit die miljoene rande se skade wat die natuur in groot dele van die land aangerig is. Nuwe hulpaksies volg nog voor die oues soos by Knysna afgehandel is.

Met politieke strooptogte is dit egter moeiliker om hulpaksies in omgeeprojekte te omskep, want die wonde is aan die binnekant.

Deur: Herman Toerien


Enjoyed this post? Share it!