Hoe lank nog voor Suid-Afrika moet “toemaak?”

Hoofregter Mogoeng Mogoeng se vasvat van die speaker, Baleka Mbete, omdat sy die onpartydigheid van sommige regters onder verdenking geplaas het, pas so netjies in die raamwerk van ’n staat wat aan die kwyn is. Maar, met staatskaping, ’n president soos Jacob Zuma en vele meer, is die Suid-Afrikaanse situasie nog veel ingewikkelder.

Verskeie nuwe mylpaal-aangeleenthede dui daarop dat Suid-Afrika vinnig besig is om die reg om ’n staat genoem te word, aan die verbeur is.

’n Skynstaat is nie heeltemal onbekend aan die wêreld nie, met Somalië
wat sekerlik die mees bekende onlangse voorbeeld was. Dit is wanneer ’n land geen regering meer het nie, al is daar formeel mense in ampte, maar in onmag is om te midde van anargie te regeer, laat staan nog doeltreffend te regeer.

In die buitelandse pers word nou selfs na Nigerië se president as ’n verdwene
president verwys, en allerlei nadelige voorspooksels word gedoen. Pres. Muhammadu Buhari is nou al weer twee maande weg, maar die hele kwessie word in geheimsinnigheid gehul. Hy kry vermoedelik in Londen mediese behandeling teen kanker.

Die geheimhouding skep meer probleme as sy afwesigheid.

In Jemen, so word berig, gaan selfs die kamele dood van die dors weens die uitmekaarval van die regeringstrukture wat onder meer na hul versorging moes omsien.

’n Paar onlangse kwessies belig hoekom Suid-Afrika, volgens heelwat waarnemers, besig is om stil-stil as staat “te verdwyn.”

Die eerste en opvallendste is stellig die kwessie van staatskaping, wat al blykbaar jare aan die gang is, maar nou met duisende gelekte e-posse en die harde werk van ondersoekende joernalistiek na die oopte gesleep word. Die woord “staatskaping” impliseer immers dat die regering self nie meer volle regeervermoë oor die staat het nie omdat iemand anders dit sou gekaap het.

Nog ’n belangrike baken is hoofregter Mogoeng Mogoeng se taamlike skerp reaksie op opmerkings van die speaker, Baleka Mbete, dat sommige regters téén die ANC is.

Mbete is nie die eerste ANC-ampsdraermwat aantygings van hierdie aard gemaak het nie, met Zuma self by tye aan die voorpunt om die regbank as “deel van die opposisie” te beskryf. Tot dusver was die reaksie van die regbank, afgesien van wanneer uitspraak gelewer word en die staat (al weer) ’n saak verloor, taamlik diplomaties en bedees. Nou het Mbete goed onder Mogoeng se tong deurgeloop, en in die proses is die klappe in wese ook wyer in die ANC uitgedeel.

Natuurlik is regters nie volmaak nie, soos soms blyk uit appèlsake, wat op haas elke ander vlak van appèl met dieselfde feite en bewyse, die teenoorgestelde uitspraak oplewer. Die Renate Barnard-saak is ’n goeie
voorbeeld. Die Seriti-kommissie wat “ondersoek” gedoen het na die wapentransaksiesaak het die beeld van die regbank ernstig geskaad.

Die interne prosesse om regters wat oortree vas te vat boesem ook nie baie
vertroue in nie weens onder meer die uitsonderlike lang tye wat dit neem, soos die gevalle John Hlope en Nkola Motata toon. Die regbank tree egter tot dusver oorweldigend knap en eerlik op. Veral as dit met die Zuma-bewind vergelyk word.

Nog ’n belangrike kwessie wat op ’n staat wys wat besig is om te verdwyn, is die waarskuwing van dr. Jackie Cilliers van die Instituut vir Sekerheidstudies en wat hoofsaaklik op tendense en patrone dui.

Hy het onder meer na die inbrake by eers die Valke se hoofkantoor en toe by ’n kantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag verwys, en die moontlikheid geopper dat dit met die faksiestryd in die ANC te make het.

Die belangrike is egter dat hy meen Suid-Afrika staan voor die moontlikheid om ’n “skadustaat” te word.

Hy wys ook daarop dat misdaad toeneem, maar skuldigbevindings afneem.
Intussen het die DA-leier, Mmusi Maimane, ’n beroep op Zuma gedoen om die direkteur van Nasionale Vervolging, Shaun Abrahams, af te dank. Abrahams sou glo sake teen Zuma en die Guptas smoor.

Elkeen van die aspekte wat hier kortliks onder die loep geneem is, regverdig in eie reg om as ’n meesters- en selfs doktorale verhandeling aangepak te word.

Suid-Afrika het rommelstatus, beleef ’n resessie, die groeikoers is daarmee heen en heelwat hiervan moet voor die deur van die regering gelê word, eerder as die inherente krag van die ekonomie self.

Elke oomblik wat daar nie ’n verandering in regering intree nie, word voortgegaan met die verskansing van ekonomiese wandade soos met kaderaanstellings, nie-markgedrewe ekonomiese beleidsaspekte en vele meer, en word die taak om dit af te takel wanneer ’n nuwe regering verkies word al groter en moeiliker.

Skrywer: Herman Toerien
Bron: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!