Hoenderpastei

Hoender pastei

Hoenderpastei

Bereiding: 20 minute
Gaarmaak- en baktyd: 75 minute
Genoeg vir 8-10 mense

40 ml (8 t) botter
200 g spekvleis, fyn gesny
250 g sampioene, in dun skyfies gesny
25 ml (5 t) koekmeel
5 ml (1 t) sout
3 ml (ruim ½ t) vars gemaalde swartpeper
1 hoender (1,5 kg), in stukke gesny
5 naeltjies
5 pimentkorrels
4 swartpeperkorrels
1 lourierblaar
50 ml sago
2 hardgekookte eiers, in skywe gesny
1 eiergeel, geklits
25 ml (5 t) asyn of 50 ml (10 t) droë witwyn
1 rol skilferkorsdeeg

Verhit 20 ml (4 t) van die botter in ’n swaarboomkastrol en braai die spek tot bros.
Skep uit en hou eenkant.

Braai die sampioene tot bruin in dieselfde kastrol en skep by die spek; hou eenkant. meng die meel, sout en peper en rol die hoenderstukke daarin.

Sorg dat jy dit deeglik doen.

Verhit die res van die botter in dieselfde kastrol en braai die hoender tot alkant bruin.

Bind die naeltjies, piment, peperkorrels en lourierblaar in ’n kaasdoek vas en voeg dit by die hoender.

Voeg die sago by, bedek met water en kook stadig tot die vleis sag is. haal die sakkie met speserye uit.
Giet die vleissous af en hou eenkant.
Haal die hoendervleis van die bene af en plaas dit in ’n mengbak.
Voeg die hardgekookte eiers, gebraaide spek en sampioene by.

In hierdie stadium behoort die reuk alleen vir jou al klaar te vertel dat hierdie pastei in heeltemal ’n ander klas is.

Skep die vleismengsel in ’n pasteibak – sit ’n omgekeerde koppie of pasteitregter in die middel.
Voorverhit die oond tot 240 °C.
Verhit die vleissous oor lae hitte en voeg die eiergeel by.
Wees versigtig dat dit nie skif nie.
Voeg die asyn of wyn by en giet die vleissous oor die vleis in die pasteibak.
Rol die skilferkorsdeeg dun uit en plaas op die vleis.
Prik met ’n vurk sodat die stoom kan ontsnap.
Bak 15-20 minute, verminder die hitte tot 180 °C en bak nog 15 minute

Enjoyed this post? Share it!