HOEVEEL KORRUPSIE WIL DIE DA NOG TOESMEER?

Dit bly verstommend ironies dat die Demokratiese Alliansie van die more tot die aand tekere gaan oor korrupsie, terwyl die media sommer openlik berig oor die vlak van korrupsie wat Patricia de Lille in Kaapstad toesmeer. Verstommend genoeg kom die DA nie so ver om van haar ontslae te raak nie. Hoekom nie? Waarom moet sy voortdurend gepaai word? Is die DA bang om openlik teen De Lille op te tree?

Sopas word berig dat Craig Kesson van die DA (Uitvoerende Direkteur in De Lille se kantoor) reeds op 6 Julie vanjaar met De Lille gepraat het oor R43 miljoen van die MyCiti busdiens wat “verdwyn” het tussen DA Raadslede. Hy het met sy bewyse na ‘n regsgeleerde gegaan en ‘n mening gekry wat hom genoeg rede gegee het om dit met Patricia op te neem. Daar is niks aan gedoen nie. OP 31 Augustus het Kesson weer met De Lille daaroor gepraat, waarop sy glo gesê het dat hulle die aangeleentheid “moet laat wegraak” en dat dit “…nie voor die Raad mag dien nie…”

Toe dit die derde maal geopper word, op 5 September, het sy ‘n beroep gedoen dat almal asseblief “teamplayers” moet wees en dat sy geen rede insien vir ‘n ondersoek na die aangeleentheid nie. De Lille raadpleeg glo haar regsadviseurs oor die beweringe wat Kesson teen haar gemaak het

Ondertussen is die stadsbestuurder, Achmat Ebrahim, die Kommissaris van Transport Ontwikkelings Kommissie van Stad Kaapstad, Melissa Whitehead en ….Craig Kesson (!) deur die DA in kennis gestel dat hulle 7 dae het om redes aan te voer waarom hulle nie geskors moet word nie! Hoekom word Kesson vervolg nadat hy die toesmeer van korrupsie binne die Kaapse DA onthul het?

En dis nie die eerste keer nie. ‘n Maand of wat gelede was daar ‘n botsing tussen De Lille en JP Smith omdat De Lille die Spesiale Ondersoekeenheid na Korrupsie binne die DA, wat deur Smith aangevoer is, eensydig ontbind het. Is dit toeval dat die eenheid ontbind word in dieselfde tydperk toe Kesson met sy “bewyse van korrupsie wat toegesmeer is” na De Lille gegaan het? En weereens: Wat doen die DA? Hulle skors JP Smith! (Smith het vroeër van die VF+ oorgeloop na die DA)

De Lille se rekord raak lank en duister. Haar agterryer, Brett Herron, wat saam met haar van die Onafhanklike Demokrate oorgeloop het na die DA, was saam met haar ook betrokke by ‘n proses waarvolgens Metro Rail deur ‘n tenderproses gekoop sou word – dit nadat daar alreeds beweringe van ongerymdhede was in die DA se toekenning van tenders vir die bou van brue. Dit wil toenemend lyk asof die Vervoerafdeling van Stad Kaapstad ‘n bedenklike rekord ten opsigte van korrupsie begin ontwikkel.

Selfs toe De Lille vir Loyiso Nkohla, die berugte “menslike uitskot gooier” tydens ‘n protes in Kaapstad aangestel het as adviseur teen ‘n astronomiese salaris het die DA nie opgetree nie.

Wat die vraag laat bly: Hoe lank wil die DA al die beweringe van korrupsie en wanbestuur deur De Lille in Kaapstad probeer toesmeer? En hoeveel keer gaan die mense wat dit onthul nog geskors word?

Die DA praat graag oor korrupsie. Modder gooi met skoon hande, Mmusi? Dit lyk asof die DA en die ANC by mekaar kan kers opsteek!

Deur: Daniel Lötter/Front Nasionaal SA


Enjoyed this post? Share it!