Hof sê of Motsoeneng moet betaal

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Juran van den Heever

Die arbeidshof in Johannesburg het beslis dat Hlaudi Motsoeneng, die SAUK (SABC) en Simon Tebele aanspreeklik gehou word vir die onregmatige afdanking van die SAUK (SABC) 8 verlede jaar.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se sentrum vir billike arbeidspraktyke, is hierdie uitspraak ʼn oorwinning vir elke Suid-Afrikaner. “Hierdie oorwinning is nie net ons oorwinning nie; dit is elke Suid-Afrikaner s’n. Dit onderstreep die nodigheid dat staatsamptenare, ongeag hoe hoog en magtig hulle hulself ag, aanspreeklik gehou moet word vir hul besluite.

“Dit bevestig ook die basiese beginsels van deursigtigheid en verantwoording, soos uiteengesit in die Grondwet. Ons is verheug oor die uitspraak, wat ook as presedent sal kan dien teen soortgelyke staatsamptenare,” het Van der Bijl gesê.

Die uitspraak beteken dat Motsoeneng, omstrede voormalige bedryfshoof van die SAUK (SABC), Tebele, die voormalige waarnemende hoof van nuus by die SAUK (SABC), en die openbare uitsaaier elk ʼn gedeelte van die regskoste moet betaal rakende die onregmatige afdanking van die SAUK 8 in Julie verlede jaar.

Die kostebevel-aansoek het gekom nadat die SAUK 8 suksesvol was in hul hofaansoek om hul afdanking deur die openbare uitsaaier teen te staan. Hulle is afgedank nadat hulle Motsoeneng se opdrag teëgegaan het dat geen gewelddadige betogings op die uitsaaier se platforms uitgesaai mag word nie.

Enjoyed this post? Share it!