Honderde miljoene rande aan borgskappe bestee deur bankrot SAL

Terwyl die staat die afgelope naweek dringend moes ingryp om die totaal bankrot Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) met R2,2 miljard te red, blyk dit uit ʼn vraag van die VF Plus aan die minister van finansies dat die SAL in rojale geldvermorsing honderde miljoene rande aan borgskappe uitdeel.

Volgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is daar sedert 2013 reeds borgskappe van sowat R127 miljoen toegeken aan onder meer die Springbok-rugbyspan, die land se Olimpiese span, die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, die Afrika-Spele, die International Jazz Extravaganza en aan Bafana Bafana.

Die sokkerspan word nog tot in Maart 2021 geborg met R25 miljoen per jaar wat die totaal aan borgskappe tot dan meer as R200 miljoen sal laat beloop.

Die reddingsboei van R2,2 miljard is oor die naweek na die SAL uitgegooi sodat agterstallige skuld aan Standard Chartered Bank betaal kon word. Luidens die minister se antwoord op die VF Plus se vraag is die borgskappe in die vorm van goedgunstige waarde (value-in-kind) en nie kontant nie wat op gratis lugreise neerkom.

Met die laaste sitting van die parlementêre portefeuljekomitee einde Maart vanjaar het dit geblyk dat die SAL se verlies in die 2017-boekjaar tot R4,5 miljard kan beloop terwyl die redery R8,9 miljard se lenings in die huidige boekjaar sal moet terugbetaal. Hiervan het die staat nou R2,2 miljard gegee vir Standard Chartered.

Dr. Groenwald sê dit is onaanvaarbaar dat die bankrot SAL wat die afgelope jare met miljarde rande se belastinggeld aan die lewe gehou moes word, borgskappe van miljoene rande verskaf, al is dit in die vorm van gratis lugreise.

“Dat dit gratis lugreise behels, verander niks aan die saak nie aangesien dit ʼn inkomste sou wees vir die SAL en die las op die belastingbetaler kon verlig. Borgskappe aan sportspanne is in beginsel nie verkeerd nie, maar dan moet die instelling dit kan bekostig en nie ʼn onnodige las op die belastingbetaler plaas nie.

“Die onderpresterende Bafana Bafana is tans 62ste op Fifa se ranglys, en sal daarom sukkel om groot borgskappe vanuit die sakewêreld te lok. In die rugbywêreld is ʼn land soos Venezuela in dieselfde posisie op die ranglys.

“Dit is nie regverdig en aanvaarbaar dat die staat en die publiek ʼn span borg wat soos die SAL onderpresteer nie,” sê dr. Groenewald.

Bron: Vryheidsfront Plus


 

Enjoyed this post? Share it!