Hospitaal Slagting: Babas minder as 1kg moet sterf

Welkom. Baba se dood ‘nie tevergeefs’ – Soos ander babas wat minder as 1 kg weeg, moes baba Ethan in die hospitaal se waskamer sterf.

Maar dié vegtertjie het ander planne gehad en minder as ’n maand ná sy geboorte het sy kort lewe mense se harte aangeraak en weet die hele land nou van dié wrede praktyk in staatshospitale.

Die Barnard-egpaar het in Januarie vanjaar uitgevind Cindy is swanger. Dit sou hul derde kind wees. Ben, ’n elektrisiën, het op kontrak by ’n myn gewerk, maar gesukkel om permanente werk te kry.

 Toe sy nege weke swanger was, het Cindy begin bloei. ’n Dokter in die Bongani-hospitaal op Welkom het haar aangesê om elke dag ’n aspirien te drink.

Op 20 Junie het sy sametrekkings gekry en die Barnards het ’n ambulans ontbied.

Cindy sê sy was al 26 weke swanger, maar die hospitaalpersoneel het uit die staanspoor nooit aan haar baba as ’n mens gedink nie. Daar is na ’n dreigende miskraam verwys terwyl sy die lewe aan ’n vroeggebore baba geskenk het.

Ben is die aand huis toe, want hy mag volgens die hospitaal se beleid nie by Cindy gebly het nie.

Sy het teen middernag nog in die wagkamer van die kraamafdeling gelê en alleen, sonder hulp, daar begin kraam.

Nadat baba Ethan gebore is, het ’n suster, wat haar intussen begin versorg het, gesê: “Jy kan maar vergeet van die kind.”

Dié suster het Ethan weggevat. Cindy het gedink haar kind word in ’n broeikas gesit.

Sy is in die nag oorgeplaas na die hospitaalsaal vir ma’s wie se babas dood is. Sy het geweet haar kind is dood, want dit is waarheen sy in 2013 gestoot is toe haar en Ben se eerste kind ook dood is.

Cindy is gevra om ’n toestemmingsvorm te teken dat Ethan veras mag word. Die vorm moet geteken word omdat babas van minder as 1 kg as mediese afval beskou word. Ethan het 730 g geweeg.

Sy het Ben gebel en gesê Ethan het dit nie oorleef nie, hy was te klein. Ben het net ná 07:00 by die hospitaal opgedaag.

Die egpaar het hartseer in die hospitaal se binnehof gesit en huil oor hul baba toe ’n verpleegster na hulle kom soek het. Die vrou het gesê sy moes Ethan se lyk in ’n houer plaas vir die verassing toe sy agterkom hy leef nog.

Baba Ethan is inderhaas na die neonatale waaksaal geneem. Hier het hy, byna sewe uur ná sy geboorte, die eerste keer suurstof gekry.

“Binne enkele ure is die mat behoorlik die tweede keer onder ons voete uitgeruk,” sê Ben terwyl sy oë vol trane skiet.

Hy hou Cindy se hand vas.

“Dit was die mooiste gesig om ons kind te sien en te weet hy leef. God het Ethan gestuur sodat almal kan weet wat hierdie hospitale met babas doen.”

In baba Ethan se lêer was ’n aantekening dat hy aan hipotermie (verkluiming) ly. ’n Dokter in die neonatale waaksaal het hier reguit aan die egpaar gesê babas van minder as 1 kg is nie vir die hospitaal ’n voorkeur nie.

Dit is waarom hulle Ethan gelos het om in ’n yskoue spoelkamer te sterf, sê Cindy.

Die volgende paar dae het klein Ethan versterk. ’n Vroulike dokter het volgens die Barnards alles moontlik gedoen om hul seuntjie te versorg. Hy het goed gevorder, maar bloedarmoede ontwikkel.

Die naweek van 1 Julie was die dokter wat na Ethan omgesien het nie aan diens nie. Ethan het skielik agteruit begin gaan en sy lyf het styf geword. Niemand kon aan die egpaar verduidelik waarom die seuntjie se spiere styf word nie.

Op 3 Julie het Ethan se toestand verswak. Hy is die aand oorlede, 13 dae nadat hy vir dood in ’n koue waskamer gelos is.

Toe Cindy in die gang huil, is aan Ben gesê: “Vat jou vrou huis toe, sy raas.”

Die Barnards glo Ethan het nie vergeefs gesterf nie. Hulle sal nie stilbly oor wat aan hul seun gedoen is nie. In 2013 het hulle ook ’n baba in die Bongani-hospitaal verloor. Hulle glo ook dié baba se dood was aan nalatigheid te wyte.

  • ’n Klag van strafbare manslag is teen die hospitaal ingedien en die polisie het bevestig dat die saak ondersoek word. Die provinsiale gesondheidswoordvoerder, Mondli Mvambi, het vroeër aan Rapport gesê die departement het hulle berading aangebied. Die Barnards het aan Volksblad gesê niemand het hulle enige berading aangebied nie.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!