Hospitale -Skreiende skande hoe oues behandel word

Kos het begin vrot in die mond van ’n pasiënt wat 10 dae gehospitaliseer is en toe verlede week ontslaan is.

Die bestuurder van ’n plaaslike aftree-oord het ’n striemende aanval gedoen op medici in die algemeen nadat ’n inwoner uit ’n staatshospitaal ontslaan is met yslike bedsere.

Die bestuurder, wat ook ’n verpleegsuster is, het gereeld te doen met hospitale. Daarom verkies sy om in dié stadium anoniem te bly.

“Die gebrek aan sorg vir bejaardes in openbare én private hospitale is absoluut onaanvaarbaar,” vertel sy.

 “Ons lees baie van mense wat ‘mishandel’ word in aftree-oorde, maar die publiek moet weet dat hospitale nie onskuldig is nie.

“Dit gebeur op ’n daaglikse basis dat mense slegter uitkom as wat hulle ingegaan het,” sê sy.

In die jongste voorval het ’n 80-jarige vrou, wat woonagtig is in ’n ander aftree-oord, op 10 Junie na die hospitaal gegaan nadat sy longontsteking opgedoen het.

“Ek help daardie aftree-oord gereeld, so ek ken die tannie. Sy het bietjie swakker geword en wou nie eet nie. Ek het toe aanbeveel dat sy hospitaal toe gestuur word.

“Ná so ’n paar dae het ek bekommerd geraak oor die feit dat sy so lank in die hospitaal is, maar toe bel die aftree-oord my en sê die tannie is in ’n slegte toestand.

“Ek sien toe sy het ’n ontsettende groot bedseer. En kan jy glo, sy is op 20 Julie ontslaan, met bedseer en al! Watse kans het dié ou mens op herstel as sy so terugkom? Ek kon haar nie eers weeg nie, want sy kan nie staan nie!” Daar was ook ou kos in haar mond gevind wat begin vrot het.

Volgens die bestuurder het die dokter gesê die bedseer is ’n oppervlakkige wond, maar sy verskil. “Die dooie weefsel is klaar besig om te verdik – so, basiese wondsorg sal nie help nie,” sê sy.

Die ander bedsere op haar oor en hakke is “klein en droog” en nie so erg soos die een op haar agterstewe nie, wat volgens haar heel moontlik die bejaarde vrou se dood kan beteken.

“Almal sê altyd ‘hulle is oud, hulle kan maar doodgaan’. Ja, hulle kan doodgaan, maar jy moet jou bes doen om dit te voorkom. Ek sien nêrens in die wet dat ’n bejaarde nie ook geregtig is op die beste behandeling nie.” Sy erken sy is desperaat en moedeloos, want sy sien gereeld voorbeelde van dié soort verwaarlosing.

“Een van ons pasiënte is na ’n private hospitaal toe gestuur. Hy was hier in ’n wattebolletjie toegedraai. Toe eet en drink hy nie, wat maak dat hy hospitaal toe moet gaan.

“Daar word toe vir die pasiënt se familie gesê dat hul pa oud is, en dat hy demensie en longontsteking het. Die dogter het daarop aangedrang dat haar pa in die intensiewe sorgeenheid gesit word. ‘Mevrou, is jy bewus daarvan dat jy jou pa se lyding verleng?’ het die dokter gevra.”

Die bestuurder het baie stories wat sy al eerstehands ervaar het oor die houding van die medici. In een geval het sy aangedring daarop dat een van haar inwoners opgeneem moes word ná aanhoudende braking en ’n swak eetlus.

Die dokter se antwoord was: “Stuur dan nou maar jou 100 jaar oue pasiënt dat ons op haar kan opereer!”

“Kyk, ek probeer ’n oplossing vind vir die feit dat ou mense altyd agter in die ry staan. In ’n kwessie van ses maande het daar drie soortgelyke gevalle plaasgevind,” sê sy.

Een van die bejaardes het onlangs gesterf weens bedsere wat sy in ’n hospitaal opgedoen het, en toe is dit net “toegesmeer” met die woorde “septisemia”.

“Ek het met die hospitaal gaan praat en hulle het gesê hulle promoveer nie swak sorg nie, wat ek glo! Iewers val die pap egter op die grond. Ons kla by die owerhede, maar daar word niks aan gedoen nie! Ek baklei daagliks met hulle. Mense loop in die hospitaal in en kom uit – pap en met ’n doek aan.

“Aftree-oorde word nie kwytgeskeld van foute nie. Mense val by my ook.

“Hulle word siek, hulle raak gedehidreer, maar om die publiek se oningeligtheid te probeer verander, wil ek sê daar is baie groot kommer as dit kom by bejaardesorg.”

Sy sluit af: “Ek is eendag gevra om te gaan kyk na ’n pasiënt wat in sorg geplaas moet word. Sy het in ’n shack gebly en ek moes amper half oor die meubels klim om by haar haar matras uit te kom.

“Sy was silwerskoon, netjies en het nie ’n bedseer op haar gehad nie. Dít is my boodskap.

“Ons moet teruggaan na die basiese dinge! Basiese verpleegsorg is pateties. Die dokters praat nie meer met die familie nie.”

Bron: Netwerk24


Enjoyed this post? Share it!