Hulle, dis nou Potgietersrus raadslede, toon geen respek vir oomblik van stilte vir boere nie

Kort nadat die stadsraad van Potgietersrus wel ‘n oomblik van stilte aanvaar het vir die dood van ene dr. Thla Thla, het hulle gelag en ‘n voorstel vir ‘n oomblik van stilte vir ‘n vermoorde boere egpaar luidkeels uitgejou.

VF Plus het ʼn versoek vir ʼn oomblik van stilte vir die vermoorde Van Zyl-egpaar gedurende ʼn raadsvergadering van die Mogalkwena-plaaslike munisipaliteit (Potgietersrus) gerig en is uitgejou, het mev. Marcelle Maritz, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit en leier van die VF Plus in Limpopo, gesê.

Maritz het die versoek gedurende ʼn gewone vergadering van die munisipale raad gerig na ʼn oomblik van stilte vir dr. Thla Thla toegestaan is.

“Piet en Tilla van Zyl, ʼn bekende renosterboer en sy vrou en bekendes in die gemeenskap is op 20 Augustus op hul plaas in die Immerpan-distrik vermoor.

“Die reaksie van die ander politieke partye het my tot in my diepste wese geskok. Die EFF-raadslede het my uitgejou en van die ander raadslede het selfs gelag. Daar is so ʼn groot bohaai opgeskop omdat ek vir ʼn oomblik van stilte vir slagoffers van ʼn grusame moord gevra het, dat ek die menslikheid van sommige van die raadslede betwyfel,” het Maritz gesê.

“Geen ander party het my versoek ondersteun nie.

“Die VF Plus veroordeel grusame aanvalle op ons land se boere en hul werkers ten sterkste.

“Ons veroordeel ook ander politieke partye se argelose houding jeens hierdie geweldige probleem wat elke landsburger hetsy direk of indirek raak.

“Ons is veronderstel om ʼn voorbeeld stel, daarom is die optrede deur die Mogalkwena-raadslede skokkend en uiters kommerwekkend”, het mev. Maritz gesê.


Enjoyed this post? Share it!