Inbrake en brande by staatsinstellings is agv strydende politieke faksies

Strydende politieke faksies wat meeding om politieke mag blyk agter die onlangse vlaag van inbrake en brande by sleutel-staatsinstellings te wees, het ’n ontleder van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) Dinsdag gesê.

Die brande by die kantore van die premiers van die Oos-Kaap en Gauteng verlede maand is bedoel om adj.pres. Cyril Ramaphosa se faksie in die ANC te intimideer, het dr. Jakkie Cilliers van die ISS uit Swede gesê.

“Hierdie is twee pro-Ramaphosa-provinsies en vir dieselfde ding om op albei plekke in so ’n kort tyd te gebeur is waarskynlik nie toevallig nie.”
Dit was waarskynlik ’n “op-die-grondfaksie” wat geboue aan die brand gesteek het.

“Dit kon nie gedoen gewees het deur intelligensiedienste, byvoorbeeld, nie. Hulle kan redelik maklik elektronies kry wat hulle wil hê,” het hy oor die inbrake gesê.

Die land staan voor die moontlikheid om ’n “skadustaat” te word ná die misdadige gebeure by openbare instellings en onthullings oor staatskaping, het Cilliers gesê.

Hy het gesê politiek gemotiveerde aanstellings ondermyn instellings soos die polisie, die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag. Hy sê dit het begin onder Nelson Mandela, maar het ’n neiging geword onder voormalige pres. Thabo Mbeki en nou pres. Jacob Zuma.

“Op die oomblik is die vereiste om as nasionale (polisie)-kommissaris aangestel te word laer as die van ’n konstabel. Dit is ’n voorbeeld van kaderontplooiing.”

Cilliers sê dit is kommerwekkend dat die Valke en die polisie nie beweringe van staatskaping ondersoek nie nadat ’n berg van bewyse hieroor onlangs aan die lig gekom het. “Hierdie gebrek aan optrede is duidelike bewys van sameswering deur die staat,” sê Cilliers.

“Die Gupta-familie se magshouvas op Suid-Afrika en hul invloed op die ANC sal in die toekoms nadelig wees vir die land. Staatskaping en politieke aanstellings veroorsaak ’n afname in goeie polisiëring.”

Cilliers het ’n onlangse ISS-studie aangehaal wat bevind het dat die skuldigbevindingskoers afgeneem het terwyl die misdaadkoers oor die laaste paar jaar geleidelik toegeneem het. Dit sal geruimte tyd neem om dit te verander.

Cilliers sê hoewel Suid-Afrika se regeervlak nog ver weg is van dié in Zimbabwe, is populisme onder Zuma gevaarlik.

“Wanneer politici verkiesings deur populisme wen, soos in Zimbabwe, is die enigste manier om aan die bewind te bly wanneer hulle meer radikaal raak. As jy eers op ’n populistiese pad begin beweeg, is dit moeilik om jouself daarvan af te kry.”

Cilliers sê dit was duidelik dat die vermorsing en ondoeltreffende staatsbesteding die land en sy ekonomiese potensiaal aftrek.

“Die plunderings- en ondoeltreffendheidskoers is op ongekende vlakke. Dit gebeur tot so ’n mate dat die land erg bloei. Terwyl die skade wat deur Zuma se administrasie aangerig word jare sal neem om te herstel, is daar steeds hoop,” sê Cilliers.

“Jy het ’n ANC nodig wat pro-groei is en bereid is om met die private sektor saam te werk. Dit is nie ’n populêre ding om te sê dat om met die private sektor saam te span broodnodige werkgeleenthede skep nie,” sê Cilliers.

Dit het Maandag bekend geword dat die Pretoria-kantoor van die direkteur van openbare vervolging by ingebreek is.

Dié inbraak volg ’n inbraak verlede week by die Valke se hoofkantoor in Pretoria. Die diewe het rekenaar-hardeskywe en skootrekenaars gesteel. Dit het inligting bevat wat vermoedelik deurslaggewend is in ’n teen-korrupsie-ondersoek na personeelaanstellings deur die voormalige Valke-hoof, lt.genl. Berning Ntlemeza. Hy is in April deur die minister van polisie, Fekile Mbalula afgedank.

In Maart is 15 rekenaars met inligting oor die land se regters uit die kantoor van die hoofregter gesteel. Drie mans is vir daardie diefstal in hegtenis geneem.


Enjoyed this post? Share it!