Inbreker kom sy moses tee na huiseienaar hom dood skiet met windbuks

’n Moordklag is aanhangig gemaak teen ’n huiseienaar wat ’n inbreker met ’n windbuks in Standerton, Mpumalanga, doodgeskiet het.

Jan Wentworth is volgens sy vrou, Maireen, omstreeks 08:07 deur die inbreker in hul huis oorval.

“My man is nog baie geskok en die dokter het hom iets gegee om te slaap omdat sy bloeddruk so ontsettend hoog was,” sê Maireen.

Sy wou nie namens hom te praat nie, aangesien sy nie tydens die voorval tuis was nie.

Kapt. Fanie Nhlabati, polisiewoordvoerder, sê die inbreker het vroeg Vrydagoggend ’n venster gebreek om by die huis in te kom.

“Hy het vermoedelik gesien die vrou ry om haar kinders skool toe te neem en het nie verwag dat iemand anders in die huis is nie,” sê Nhlabati.

Wentworth en die inbreker het in ’n struweling betrokke geraak waartydens Wentworth die inbreker glo met ’n windbuks net bo die linkeroog geskiet het.

“Die man het glo dadelik inmekaargesak en is op die toneel dood,” sê Nhlabati.

“Die windbuks is wel nie ’n werklike vuurwapen in die tradisionele sin van die woord nie, maar kan wel op ’n kort afstand iemand se dood veroorsaak.

“Die polisie het dus ’n klag van moord teen die huiseienaar (Wentworth) aanhangig gemaak.”

Volgens Nhlabati is die inbreker nog nie geïdentifiseer nie, maar was hy vermoedelik ongeveer 25 jaar oud.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 
  • Danielle Bennett

    Dit is sommer nonsens! Nou word ‘n klag van moord oopgemaak teen die huiseienaar en hy moet gestraf word. Wat van die persoon wat onwetlik toegang tot sy huis verkry het? Die skermunkel hoort mos nie daar nie. Indien die huiseienaar gesterf het en die rower skotvry daarvan afgekom het sou ‘n saak van roof oopgemaak word en nie moord nie.

    • Bundu

      jy verstaan die wet duidelik nie